God se Woord in vandag se woorde

Vertroue en liefde wat oorloop


Dis goed om te weet dat ons die eiendom van God is. Ons het ’n opdrag om wye draaie te loop rondom verkeerde goeters. Laas het ons gehoor ons moet al ons energie gebruik om só te leef dat God ons op die skouer kan klop en sê: Welgedaan.

Ons hóór die dinge. Ons wéét die dinge. Ons weet dat dit die regte ding is om te doen, maar hoe kry ons dit reg? Hier’s ’n plan: 11… Hou aan om op God te vertrou en om oor te loop van liefde vir ander.

Daar moet een sterk fondasie wees vir die projek en dit is God. Moenie eers probeer om die uitdagings en aanloklikhede van versoekings op jou eie te hanteer nie. Dit kan nooit werk nie.

Hiervan kan ek getuig. Een voorbeeld was die bediening wat ons onder tieners wou begin. Hulle word so gebombardeer met gemors op hulle fone en ons wou God se Woord ook na hulle fone bring. Maar dis nie sommer vir so nie. Daar is geld nodig, baie daarvan om ’n professionele web te ontwerp, ’n App te laat skryf en bemarkingsvennote te kry. En wie gaan dit alles doen?

Ek het al hard uit eina-ondervinding geleer dat jy nie moet probeer om so ’n groot visie op jou eie na te jaag nie. Daarom was God van die begin af die fondament, die Een wat voor gestap het, die deurwag, die wyse leier, en die bank. ’n Maand voordat ons die bediening bekendgestel het, kom die geld om al die ontwikkelings te finansier met een groot tjek ingevlieg.

Alles net moontlik omdat ons een groot Vennoot ingetrek het aan wie al die geld in die wêreld behoort.

Ek moet bieg: Ek het soms gewonder of dit gaan werk. Soms het ek hardop gevra na waar die geld vandaan gaan kom. Soms het ek gewonder of die tegniese goeters aan die agterkant gaan realiseer. Soms het ek gewonder of die tieners regtig gaan inkoop. En dan het ek stil geword en op God vertrou. Ek het tot God gebid en as ek daar opstaan was ek rustig. My vertroue was op Hom en Sy belofte dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie, het weer ingeskop.

Vertroue dat God saam met ons deur die lewe loop en ons met Sy Gees sal help, help baie om draaie om die verkeerde dinge te loop en om binne die wil van God te leef. Maar daar is nog ’n eenvoudige voorstel wat jou prakties hiermee kan help: loop oor van liefde vir ander mense.

Dis maklik: As jy besig is met die goeie, is daar minder plek vir die slegte. Dis amper soos ’n eenrigting klep. So ’n kraan laat net vloeistof in een rigting deur. Om vloeistof in ’n ander rigting deur te laat, moet die kraan eers afgehaal, omgedraai en weer geïnstalleer word. En dis te veel moeite.

Daarom moet ons leer om net in een rigting te lewe – om oor te loop van liefde. Ons moet plekke soek waar ons liefde kan afpak. As jy jou oë oopmaak, sal jy meer plekke raaksien as die liefde wat jy het. As jy dan begin om die liefde uit jou te laat vloei, sal die verkeerde dade nie teen die stroom kan swem nie.

Onthou: 11… jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af. Doen eerder jou bes om so te leef dat God met jou tevrede voel. Hou aan om op God te vertrou en om oor te loop van liefde vir ander.

Teks
1 Timoteus 6:11-16

Om oor na te dink
Duik jou vertroue in God soms in die hek?
Loop jy oor van liefde?
Wat sê die Heilige Gees vandag vir jou?

Gebed
Here, ek vertrou te min op U. As die storms net so effe begin opsteek, duik my vertroue in die hek. Help my om staande te bly en my oë op U gevestig te hou, want ek weet U sal dan duidelik aan my wys waar U wil hê ek moet aan die werk spring om U liefde sigbaar te maak. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek