God se Woord in vandag se woorde

Vertroue in stukkies geskiet


Ek kry ‘n e-pos van Ester (skuilnaam):

Baie dankie vir hierdie stukkie. Dis so reg vir my vir vandag.

Ek het iemand vir wie ek graag al die boodskappies wil aanstuur, maar ek weet nie altyd waar en hoe om haar in die hande te kry nie.

Sy is my dogter. Sy is al vir 7 jaar in die kloue van dwelms.

Ek worstel so baie oor hoe en waar ek nog moet betrokke wees en ‘n mens se kind kan nooit jou projek word nie, maar ek bid vir wysheid hoe om hierdie situasie te hanteer.

Sy is my oudste, was Victrix Ludorum op skool, het erekleure in atletiek gehad en het na skool gaan swot.

Sy was vir 10 weke vir die tweede maal in 6 jaar vir rehabilitasie. Sy was gesond en skoon toe ek en haar jonger sussie gaan vir berading saam met haar.

Ons was vol hoop en vertroue dat hierdie keer, hierdie keer gaan anders wees. Sy het so mooi gelyk.

Dit het 5 dae gehou. Net 5 dae.

Ek weet nie waar om haar te kontak nie.

En die seer is maar net weer terug. Seer oor ek nie weet waar sy slaap, wat sy eet en wanneer sy seerkry nie.

Kan julle vir haar bid, asseblief?

My hart krimp ineen vir Ester en vir haar dogter. Die bose se manier om mense stukkie vir stukkie te verwoes. Met soveel hoop staan ’n mens daar by die voordeur van jou kind se toekoms. Met alles in jou vertrou jy dat dit dié keer anders gaan wees. Maar na 5 dae, ja net 5 dae, lê jou vertroue en hoop in stukkies.

Ek is seker Ester se knieë is al nerf-af gebid vir haar geliefde dogter. Ek is seker daarvan dat sy elke keer met ’n sak vol hoop daar opstaan en glo: “Dis dié keer!” Maar ai.

Paulus sê: 3Jy onthou seker nog hoe ons oor al die dinge van die Here gepraat het. As jy oor iets wonder, dink terug daaraan en laat jou lei deur wat ek gesê het. Vertrou op die Here en wees lojaal teenoor Hom en almal wat Syne is.

Kom ons wees eerlik met mekaar: Dis NIE SO MAKLIK NIE! Dis nie maklik om wéér te vertrou as jou vertroue keer op keer in stukkies uitmekaar geval het nie. Ons vertroue tenkie loop leeg as dit keer op keer in skerwe val. Ons verleer later om te vertrou.

Tog dink ek die les is hier dat ons ons vertroue nie in mense en goeters moet plaas nie. Ons moet ons vertroue plaas in Jesus, want sien, Hy sal ons nooit alleen los nie. Hy sal nie toelaat dat ons vertroue in Hom in skerwe spat nie, want Hy is te lief vir ons. As daar iemand is wat ons met alles in ons kan vertrou, is dit Jesus. Hy is dieselfde gister, vandag en môre.

As ons ons vertroue in God plaas, kan ons weer en weer en weer die mense om ons vertrou en dan kan ons bly hoop op herstel, al skiet ander ons vertroue in stukkies.

Teks
2 Tim 1:13-18

Om oor na te dink
Waar sukkel jy om te vertrou?
Wat kan jy daaromtrent doen?
Wat kan Jesus daaromtrent doen?

Gebed
Here, U weet hoe sukkel ek om te vertrou wanneer ek keer op keer seerkry en seergemaak word. Help my om my vertroue na U te verskuif, want ek weet U sal my nooit teleurstel nie. Dankie dat ek kan weet U sal my ook help om genade en vergifnis en liefde uit te deel elke keer wanneer dit nodig is, want U is die bron wat nooit uitgeput word nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek