God se Woord in vandag se woorde

Voet in die hoek


Die tweede voorbeeld wat Paulus in Timoteus met ons deel, is die manier hoe hy deur die lewe stap, of anders gesê: sy lewenswandel. Ons weet van Paulus se BC dae, dis nou Before Christ. Hy was rof en onbeskof en het die Christene gejag soos wilde diere.

Maar toe is daar ’n moment in sy lewe waar hy ’n ervaring met die Heilige God gehad het wat sy lewe handomkeer verander het. Waar hy ander gejag het, word hy nou die een wat gejag word. En tog het die swaard wat die heeltyd oor sy kop gehang het, hom nie gekeer om voluit op God se pad te bly loop nie.

Jy sien, as Paulus iets aanpak, doen hy dit met oorgawe. Soos ons altyd op die plaas gesê het: Hy doen dit flat box wat beteken dat hy die petrolpedaal heelpad tot onder trap.

Dit is presies hoe ons ook deur die lewe moet gaan. Voet in die hoek vir Christus. Die wêreld het die verlossende boodskap van God so nodig en ons moet die boodskap teen die vinnigste spoed moontlik by elke mens wat nog nie gehoor het nie, uitkry. Dit is hoe ons deur die wêreld moet wandel.

Daar waar ons werk, daar waar ons speel, daar waar ons deur die wêreld stap, moet ons bloot deur die manier waarop ons dinge doen, vir Christus raaksien. As ek die opdrag van die baas uitvoer, moet ek dit na die beste van my vermoë doen. Dit is dalk die enigste prentjie wat jou baas van Jesus gaan sien.

My wandel deur die lewe moet mense na God toe wys. Of dit nou in die kerk is of by die werk, orals moet my manier van die lewe leef die verlossende boodskap van God uitdra. Ek leer ’n les by oom Dawie (skuilnaam). Hy vertel:

Klein dingetjies wat jy doen, is soms meer blywend as die groter gebare!

In 2014 het ons finansieel baie swaar gehad en ek kon nie ’n ruiker of kaartjie vir my vrou gee vir ons 45ste huweliksherdenking nie!

In die tuin onder ’n perskeboom het ek een van die herfs se geel blare gekry en daarop geskryf: “Ek is lief vir jou” met die dag se datum daarby.

Ek het iets in haar oë gesien wat ek nooit met die gee van enige blommeruiker ooit gesien het nie!

Sy het vandag nog die blaar as ’n boekmerk in haar Bybel!

Klein dingetjies wat jy doen, is soms meer blywend as die groter gebare, sê Oom Dawie. Dis net hier waar ons ons lewenswandel moet aanpas. Ons moet begin met die klein gebare en sommer ook by die mense naaste aan ons. Die groter dade sal later sommer vanself kom.

Kom ons maak soos die Engelsman sê: “Let’s put our money where our mouth is.” Kom ons doen dit waarvan ons so baie hoor en selfs so baie oor praat. Kom ons soek vandag plekkies waar ons vir iemand anders iets kan beteken of spesiaal laat voel. Kom ons maak seker dat ons wandel as kind van God onberispelik is. Kom ons maak seker dat ander agter ons kan aanloop, op pad na God toe. Flat box.

Teks
2 Tim 3:10-13

Om oor na te dink
Kan mense agter jou aanloop?
Sal hulle by God uitkom?
Waar kan jy vandag ’n verskil maak?

Gebed
Vader, dankie vir al U genade. Dankie dat ek deur die lewe kan wandel en die voorreg het om ander na U te lei. Ek besef dat ek soms verkeerde afdraaie neem. Help my om tog gou om te draai en op U pad te loop. Amen.

 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?