God se Woord in vandag se woorde

Vrede en vreugde met wysheid


Toe ons in 2010 met ons bediening begin het, het ek lank gewonder wat die naam moet wees, maar dit wou net nie kom nie. Stadig het die visie na vore gekom: God se Woord in vandag se woorde. Om so mense te help om weer God se Woord by die kruispaaie in hul lewe te gebruik. Dis toe dat die woord “kruispad” uitspring.

So baie kere elke dag kom ons by ’n kruispad uit. Hoeveel keer moet ons nie besluit of ons die gewone pad gaan volg of eerder links of regs moet draai nie! Elke opsie lyk so reg, maar tog is daar net een regte een. Dikwels het ons die verkeerde een geneem, omdat ons insig en wysheid oor die pad vorentoe te min was. Die gevolge was nie so lekker nie.

Dan wens ons gewoonlik om net weer terug te gaan om weer ’n kans te kry om ’n besluit te neem. Soms is dit egter te laat en word daar nie nog ’n kans gegun om weer ’n keer ’n keuse te maak nie.

  • Die ou wat net nog een bier gedrink het en op pad huis toe ’n dogtertjie wat voor sy kar ingehardloop het, doodgery het.
  • Die besigheidsman wat net een keer ’n paar warm note onder die tafel gevat het en vandag sonder ’n besigheid, sonder sy familie, sonder sy vriende in die tronk sit.
  • Die vrou wat te naby aan haar baas gestaan het en toe gebeur dit sommer net. Vandag is daar net stukkende gesinne en seer orals.
  • Die tienerseun en meisie wie se clutch gegly het en hulle lewe net daar handomkeer verander het.

Elke dag neem ons ’n klomp besluite by die kruispaaie van die lewe. Sommige klein. Sommige groot. Daarom die opdrag vir my en jou: 5Verder moet hulle ook vir hulle leer om met wysheid op te tree …

Ek probeer my kinders help om nie dieselfde foute as ek te maak nie. Ek het ondervinding, baie ondervinding om daar by die kruispaaie vrot keuses te maak. Ek het die pyn self hard ervaar en wil hulle spaar daarvan om nie dieselfde afdraaipaadjies te vat nie. Maar helaas! Hulle ore wil nie hoor nie en dan moet hulle maar soos ek voel. Dis so onwys.

Dis ons elkeen se keuse of ons wil luister of nie. Daar is soveel wysheid in die Woord van God, maar as ons dit nie lees nie, is dit asof ons ons doof hou vir al die wyshede wat daaruit vloei. Hoor hierdie mooi wyshede uit Prediker 4: 7“’n Belangrike reël vir die lewe is om meer en meer van die regte soort kennis in die hande te kry. Dan sal jy meer op jou gemak voel. Jy sal weet hoe om in die alledaagse lewe op te tree. 8Leef die Spreukeboek se wysheid uit. Lees dit elke dag en dit sal met jou goed gaan. Omhels dit soos ’n vrou, en jy sal soveel vreugde ontvang.”

Die wysheid wat ons om elke hoek en draai in die Bybel raakloop, wil ons hand neem en ons die klippe wys waar ons ons tone nerf af kan stamp. Dit wil ons keer om oor die rante te foeter en op die regte paaie te wandel.

Mag God ons help en deur Sy Woord vir ons leer. Mag Hy ons toerus met Sy wyshede sodat dit goed met ons sal gaan. Dan sal vrede en vreugde hul woonplek in ons kom maak.

Teks
Tit 2:1-5

Om oor na te dink
Waar kort jy wysheid?
Waar moet jy dit kry?
Wat sê God daarvan?

Gebed
Vader, ek kort wysheid, hope wysheid. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek