God se Woord in vandag se woorde

Vrede is …


Ek raak nou bietjie moeg vir die nuus, want die oorgrote meerderheid is slegte nuus. Ja, daar is goeie nuus, maar dit kry nie tyd op die lug nie. Dit is nie sensasioneel genoeg nie en betaal nie die rekeninge nie.

Hoekom word die mens so aangetrek deur negatiewe nuus? Dit stig tog nie. Inteendeel, dit steel ’n mens se vrede en voor jy jou kom kry, is jy neerslagtig. Die petrolprys styg gedurig. Die regering wil grond vat. Die regering warra-warra net en die land se bestuur gaan al hoe meer agteruit. Dis droog op party plekke en dit oorstroom op ander plekke en so kan ’n mens nog baie stories vertel.

Daarom kyk en luister ek nie meer nuus nie.

Paulus sê daar is ’n paar eienskappe wat ons moet deel maak van ons fondasie, sodat ons ’n bruikbare en sterk bak is wat God kan gebruik. Daarom sê Hy: 22 … streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede. As onvrede in ons hart kom lê, trek ons bakkie skeef. Dan bly dit ’n gesukkel om bruikbaar te wees vir ander.

Die probleem is dat dit nie help om net die nuus af te skakel om weer vrede te kry nie, want op ander plekke sukkel die vrede ook om deur te breek. Baie keer sukkel ons om vrede te bewaar in ons huwelike. Dit sukkel in ons verhoudings met ons kinders, kollegas en selfs vriende.

Nou waar kry ek vrede?

Jesus gee vir ons die antwoord in Johannes 14:27 “Julle hoef nie bekommerd te wees nie. Ek los ook vir julle ’n geskenk wanneer Ek weggaan: vrede! Moet dit egter nie verwar met die oppervlakkige vrede van hierdie wêreld nie. Dit is vrede wat iemand net by My kan kry. Daarom hoef julle nie gespanne of selfs bang te voel oor die toekoms nie.”

Jesus maak dit so duidelik soos daglig. Daar is net een pitstop vir vrede en dis by Hom. As jy vrede in die wêreld gaan soek, gaan jy sukkel. Dit is nie daar te vind nie. Ja, baie belowe alles, maar wanneer die tekkie die teer slaan, is dit weg soos mis voor die son.

Baie koop ’n Lotto kaartjie en hoop en bid om te wen, want dan sal die vrede oor hulle neerdaal. Maar tog is selfs hierdie miljoene te lig in die broek om ware vrede te bring. Kyk maar na sommige lotto miljoenêrs. Hulle het nou genoeg geld, maar vrede bly hulle ontwyk.

Om vandag te oorleef, moet ons by Jesus se voete bly. Ons moet sorg dat ons verhouding met Hom aanhou groei. Hoe nader ons aan Hom groei, hoe meer sal ons soos Hy word. Dan sal ons besef waar alles vandaan kom en waarheen ons op pad is. Dan sal ons weet en glo en leef dat Hy die enigste antwoord op al ons vrae is. En die gevolg? Vrede!

Nou kan jy die vredemaker word in ’n wêreld waar onvrede heers. Daar waar mense wat naby jou is en baklei, kan jy met wysheid die vrede bring, want jy het geleer om soos Jesus te wees.

Ek weet dit is nog ’n lang pad en daar moet baie aan ons getimmer word om daar uit te kom. Maar kom ons jaag dit bewustelik na. Kom ons jaag vrede na en wees die vredemakers.

So word ons ’n al hoe mooier en bruikbare bak vir God om te gebruik.

Teks
2 Tim 2:20-26

Om oor na te dink
Waar heers onvrede?
Hoe kan jy daar help?
Vir wie moet jy help?

Gebed
Vredevors, Raadsman. U weet alles. U ken alles. Ek wil ook vrede bring. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek