God se Woord in vandag se woorde

Vrede met wat jy het


Nataniël het darem ’n slag met woorde. Een van sy sê-goed oor dankbaarheid: “Kry vir jou ’n hond en noem hom dankie. Elke keer as jy hom roep, kan jy onthou hoe dankbaar jy moet wees vir alles wat jy het en alles wat jy so onverdiend uit genade ontvang.”

8As ons genoeg het om te eet en darem klere het om aan te trek, moet ons meer as tevrede wees.

Met hierdie stelling verwys Paulus na meer as net kos en klere. Eintlik het ons almal só baie om voor dankbaar te wees. Gesondheid, kinders, familie en net die blote feit dat ons kan asemhaal, moet ons laat oorloop van dankbaarheid. ’n Dak oor jou kop, ’n eggenoot, ’n werk, vrede, liefde, omgee, rus. Daar is soveel om voor dankbaar te wees.

En tog ontbreek vrede en vreugde by ons. Ek vermoed dis omdat ons op verkeerde plekke soek. Rykdom, karre, aansien, bevordering, besigheid of wat ook al ons in die oog het, bring nie vrede nie. En omdat ons die dinge wat ons so begeer nie kry nie, oorskadu dit alles wat ons het.

Ek dink ons moet ’n lysie maak van dinge waarvoor ons dankbaar kan wees. Dinge wat ons so as vanselfsprekend aanvaar dat ons nie besef hoe gelukkig ons eintlik is om dit alles te hê nie.

Ek kyk ’n fliek van ’n man wat albei sy bene verloor het in die Boston bomaanval in 2013. Die bom het net voor die eindstreep tussen die skares ontplof. Die een oomblik swaai hy ’n plakkaat heen en weer vir sy meisie wat aan die marathon deelneem. Die volgende oomblik verloor hy albei sy bene. Die uitdagings wat hy moes deurgaan om weer so skuifel-skuifel te kon loop, was aangrypend.

Ek vermoed hy wou aan elke man en vrou by wie hy verbystap, uitroep dat hulle tog net moet waardeer wat hulle het. Dis nie vanselfsprekend om van punt A na punt B te loop nie. Jy het bene daarvoor nodig. Gesonde bene. Wees dankbaar vir wat jy het.

Staan eerder ’n slaggie terug en kyk wat jy regtig het en wees dankbaar, want dit is by dié dankbaarheid waar ware vrede lê. Ek weet dis nie altyd maklik nie. Ons elkeen het ons eie uitdagings wat ons moet hanteer.

Hoe dankbaar is jy om te weet dat daar ’n God is wat baie vir jou omgee? Hoeveel keer per dag sê jy vir God dankie dat Hy Sy Seun gestuur het om vir jou sondes te sterf?

Wanneer ’n mens besef wat jy alles het, kyk jy die lewe anders in die oë. Dan lig jou gemoed en sien jy weer kans vir die berg voor jou. Dan kan jy met ’n huppel in jou stap die moeilike dae aanvat.

Soms moet jy net terugsit en bo-oor al die geraas kyk en raaksien wat jy het. Weet dat ware vrede net by God te kry is. Wees dankbaar vir al die genade wat elke dag deel van jou erfporsie is.

By God is ware vrede en rus.

Teks
1 Timoteus 6:6-10

Om oor na te dink
Soek jy ware vrede?
Is jy regtig tevrede met wat jy het?
Hoe beïnvloed dankbaarheid jou gemoedstoestand?

Gebed
Here, ek besef dat ek nie altyd die genade wat ek elke dag ontvang, raaksien nie. Ek ontvang so baie. Dankie daarvoor. Dankie dat U so goed is vir my. Help my om dit uit te leef deur ander in die oog te kry. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek