God se Woord in vandag se woorde

Vredemakers in die storms


Daar word die storie vertel van ’n koning wat eendag ’n kompetisie uitgeloof het op soek na die kunstenaar wat vrede die beste kan skilder. Baie bekende skilders het ingeskryf vir die kompetisie, want die prysgeld was groot.  

Daar was baie indrukwekkende skilderye. Die een het veral uitgestaan met groot berge en pragtige blou lug en spierwit wolkies. Die water in die meer was spieëlglad. Geen wind in sig nie. Almal het gedink die een sou wen.  

Almal was verbaas toe die koning die wenner aankondig. Die skildery het ook berge vertoon, maar dit was rof en leeg. Die lugruim was vol kwaai wolke en vir seker het dit gelyk of daar  ’n storm aan die broei was. 

Die mense het eintlik gedink dat die skilder die opdrag verkeerd verstaan het. 

Die koning wys toe na ’n klein bossie wat in ’n kraak in een van die rotse groei. In die bossie het ’n voëltjie ’n nessie gebou. Te midde van die storm en die woeste winde, het die moedertjie rustig in vrede op haar eiertjies gesit en broei.  

Die lewe is vol van onvrede. Woeste winde waai voortdurend en storms is kort-kort aan die broei. Ware vrede is om tussen die woeste winde van die lewe in vrede te leef.  

Dis nie altyd maklik nie, want wanneer die winde so woes om ons waai, wil ons opstaan en verdedig. Dan wil ons ons punt maak en op die ander se foute wys. Dan wil ons bokshandskoene aantrek en deel raak van die geveg.  

Die Woord van God stel egter die teenoorgestelde voor: 11“Bewaar altyd die vrede; dit moet julle lewenstyl wees, want die Here sorg vir die mense wat reg leef en Hy luister graag wanneer hulle met Hom in gebed praat. “Die Here dink niks van mense wat hulle heeltyd met verkeerde dinge ophou nie.” 

Dis lekker om iemand te help wat ’n lekker mens is. Die lekker om jou energie te gebruik waar mense saamwerk en hul bes doen om hulle kant skoon te hou. Dis nie lekker om ander te help as hulle in die teenoorgestelde rigting trek nie. 

Net so is dit vir seker vir God lekker om mense te help en by te staan as hulle Sy wil doen. Ja, ek weet ons glip en gly soms. Maar tog moet ons elke dag opstaan en weer probeer om binne God se wil te leef. 

Om vrede te bewaar, is vir God baie belangrik. Nou praat ek nie van oorloë tussen lande of politieke partye wat gereeld die swaarde optel om mekaar by wyse van spreke te vermoor en uit die weg te kry nie.  

Nee, sommer daar in die huis waar ons van mekaar verskil en ons op ons eie regte staan en ons dink ons is al weer reg. Daar ontstaan gou ‘n jong oorlog totdat een die wit vlag in die lug opsteek. Ons moet vrede ten alle koste bewaar. 

By die werk, by ons vriende, selfs daar in die vreemde plekke moet ons vredemakers wees. Jesus het aarde toe gekom om vrede te maak tussen ons en God. Laat ons dan op hierdie tradisie voortbou en te midde van die woeste winde wat waai en die storms van die lewe ware vredemakers wees. 

Teks
1 Petrus 3:8-11

Om oor na te dink
Waar heers daar nie vrede in jou lewe nie?
Hoe kan jy vrede daar maak?
By wie moet jy die wit vlag gaan swaai? 

Gebed
Vader, dis nie altyd maklik om altyd die vrede te bewaar wanneer ek van iemand verskil nie. Ek weet dit is U wil dat ons in vrede met mekaar moet leef. Help my, asseblief, om volgens U wil te leef. In Jesus Naam. Amen.  

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek