God se Woord in vandag se woorde

Vrees God, maar moenie bang wees nie


In Grieks word daar verskillende woorde gebruik om liefde te beskryf, waarvan die bekendste eros, agape en philia is. Wanneer ons hierdie woorde in Afrikaans vertaal, moet ons meer woorde gebruik om die verskillende vorms van liefde te beskryf.

Eros is romantiese liefde. Agape is selfopofferende liefde, waarvan Jesus natuurlik ’n baie goeie voorbeeld is en philia verwys na die liefde tussen familie, broers en suster. Net so terloops, die plankie waarmee ons as kinders pak gekry het, se naam was Filos. Ek het eers later besef straf het ook iets met liefde te doen.

’n Mens het ’n hoop wysheid nodig om die oorspronklike verstaan van woorde en die betekenis daarvan reg oor te dra. Wanneer ons in die Bybel lees 17… Vrees God (1983- vertaling) hoor ons verkeerdelik dat ons bang moet wees vir God.

Ons verstaan vrees as jou lewe in gevaar is. Dit is ’n negatiewe emosie. Die emosie kan oorgaan na ’n reaksie van ons liggaam waar ons begin huil en bewe.

Daar is wel mense wat God op so ’n manier vrees. Dis die mense wie se saak nie reg is met God nie. Dié wat met God se genade mors en op hulle eie paaie stap, hulle behoort wel God se oordeel te vrees.

Wat egter hier bedoel word met “om God te vrees”, is eerder om diepe ontsag vir Hom te hê. Om Hom te eer vir Sy grootheid en almag. Om stil te staan en Sy skepping te waardeer en te besef hoe groot Sy almag en wonderlike skeppingsvermoë is.

As jy God wil eer, gaan staan net ’n tydjie stil in Sy skepping en laat toe dat jy oorrompel word deur die skoonheid, maar ook die wysheid wat nodig was om alles elke sekonde reg te laat werk. ’n Meesterbrein wat op ’n verstommende wyse geskep het.

Leanna Crawford sing ’n liedjie How can you not waarin sy die heeltyd vra hoe is dit moontlik dat mense nie vir God kan raaksien nie. Die miljoene sterre, die voëls wat sing, die sonsondergang, in elke liewe klein dingetjie is God se liefde sigbaar.

In die koorgedeelte sing sy: “Hoe kan jy God nie sien nie? In elke klein dingetjie, in elke klein oomblik. Hoe kan jy nie geliefd voel nie, want Hy is in die middel van elke klein dingetjie en elke oomblik.”

Om God te vrees is om respek vir Sy grootheid, Sy almag, Sy Gans andersheid te hê. God is soveel groter as ons. Hy is nie ons mater nie. Daarom dat ons in die vrees vir Hom soveel respek het.

Vrees vir God help ons om ons plek te besef. Ons is die begenadigdes. Ons is die gereddes wat eintlik op pad was na die ewige hel. Maar gelukkig het die liefdevolle God, die Vader, ons deur Jesus kom red.

Wanneer ons dit besef, wanneer ons besef waarheen ons eintlik op pad was en watter groot wonderwerk daar in ons lewe gebeur het, kan ons mos nie anders nie as om só te leef dat God altyd geëer word.

Ek het soveel respek vir God, vir wie Hy is en vir wat Hy vir my beteken. Daarom wil ek ’n lewe leef waar Sy goedheid en guns in my wêreld ’n werklikheid word, sodat die mense wat bang is vir God se oë sal oopgaan en hulle vrees vir Hom sal verander in respek, ontsag en eerbied.

Teks
1 Petrus 2:13-17

Om oor na te dink
Is jy soms bang vir God?
Het God die regte plek in jou lewe?
Het jy genoeg eerbied vir God?

Gebed
God, ons Vader, daar is geen ander soos U nie. Vir U is ek lief en wil U eerbiedig volg. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek