God se Woord in vandag se woorde

Vry in Christus


Om elke hoek en draai is daar deesdae iemand wat ’n mens wil oortuig van een of ander geloofswaarheid. Kyk maar net Sondae in die dorp. In elke holte kom daar mense bymekaar om te kerk. Nee, ek sê nie dis verkeerd nie, maar ons moet oppas dat ons nie so verstrengel word in praatjies oor dinge van die Here dat ons die Here van die dinge mis nie.

Daarom die eenvoudige waarskuwing: 16Julle moet julle ook nie steur aan mense wat met dik reëlboeke na julle toe kom en vir julle voorlees hoe godsdienstige mense eintlik moet leef nie. Hulle sal julle presies wil vertel wat julle mag eet of drink en wat nie; om nie eens te praat van die berg voorskrifte vir die feeste wat julle deur die jaar moet vier nie.

So maklik kan ons op verkeerde dinge klem lê.

Tog is daar baie mense en selfs soms ons ook, wat eerder ’n paar reëls en wette wil volg sodat ons kan weet ons is “ge-cover”. Ons voel beter of veiliger as ons iets gedoen het om hierdie vryheid te verdien. Dis asof ons na iets konkreets smag eerder as om die waarheid te omhels.

Die Boodskap het ’n mooi voorbeeld: 17Sê nou jou beste vriend kom na jou toe, wat sal jy omhels, sy skaduwee of vir hom? Natuurlik vir hom. ’n Mens sal mos nie iemand anders se skaduwee wil omhels nie. Dit klink eintlik na lawwigheid! Net so is dit met wette en feeste wat die plek inneem van ons vryheid in Christus.

17… Dan sal julle verstaan wat ek bedoel as ek sê: die klomp feeste en kos wat vir hierdie mense so heilig is, is maar ’n skaduwee van die Een wat regtig heilig is. Omhels Christus daarom liewer; Hy is immers die inhoud van julle godsdiens. Omdat Hy daar is, is julle godsdiens mos daar.

Pasop dat ons nie verval in rituele en wette, maar dan vergeet ons die Een waaroor dit werklik gaan nie. Die gewoonte om Sondae kerk toe te gaan – is dit oor die boodskap, oor die sang, oor die ander mense of gaan dit oor ’n ontmoeting met God?

Om soggens op te staan en stil te word by God – is dit dalk net ’n goeie gewoonte, of gaan dit oor intimiteit met God?

Dis die vrae wat ek aan myself ook vra: Waaroor gaan dit vir my as ek 05:00 soggens opstaan? Gaan dit oor die skryf van Bybelstudiestukke of gaan dit oor die ontmoeting met God. So maklik raak tradisie reëls en die reëls raak soos die skaduwee van God en dan vergeet ons vir God.

Sonder dat ons dit besef, word ons gou deur die tronk van reëls en wette vasgevang en dan raak dit nie meer lekker om ons Godsdiens te beoefen nie. Met swaar bagasie wat ons agterna trek, kan ’n mens mos nie die lewe geniet nie. Die duiwel weet dit ook en om die rede probeer hy ons aanjaag om die dinge wat ons doen te verander in wette. Pasop daarvoor.

As jy eendag verslaap en nie by God uitkom nie, moenie dat jou skuldgevoel jou teen die muur uitdryf nie. As jy een Sondag net wil lê en tyd saam met jou gesin deurbring, moenie dat jy in ’n ligte geestelike krisis verval nie. As dit wel gebeur, het dit dalk ’n wet of reël geword. God sal jou nie hieroor straf nie. As hierdie aksies wel wetgedrewe is, sal dit negatiewe ervarings veroorsaak sodra jy een of twee keer glip.

Jesus het jou vrygemaak. Hy het die bande van die wette afgebreek. Moenie toelaat dat wette jou beheer nie. Nee, aanbid eerder vir God. Bou eerder aan ’n intieme verhouding met God en in hierdie verhouding sal God jou wys hoe en waar jy die lewe in al sy vryheid met al die vreugdes wat daarmee saamgaan, kan geniet!

Teks

Kolossense 2:16-17

Om oor na te dink

Is die skaduwee vir jou belangriker as God self?

Het dit nie dalk ’n wet geword nie?

Ontneem dit nie dalk ’n stuk vryheid en vreugde nie?

Gebed

Vader, baie dankie vir U genade en die waarheid wat deur Jesus na ons toe gekom het. Die onderhouding van wette en feeste kon ons nie vrymaak van die houvas wat die sonde op ons gehad het nie, maar Jesus se koms na die aarde het ons vrygemaak van die las wat die sonde op ons gehad het. Help ons om as vry mense in gehoorsaamheid aan U te leef. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?