God se Woord in vandag se woorde

Waar pas Hy in?


Filippense 3:17-21

Paulus is in trane. Hy kan nie glo dat daar mense is wat teen Jesus kies nie. Hoe kry mense dit reg? Hoe kan mense opstaan teen iemand wat sy lewe vir al die sondige mense op die aarde gegee het? Dit gaan sy verstand te bowe. Ook ek kan dit glad nie verstaan nie.

Daarom die harde waarskuwing van Paulus: 18Ek het dit al baie vir julle gesê en dit maak my eintlik seer om dit weer te moet sê: daar is baie mense wat niks van Jesus hou en van wat Hy alles vir ons gedoen het nie. 19Mense wat agter daardie klomp aanloop, gaan saam met hulle die afgrond afstort waar hulle vir ewig van God af weg sal wees. Hulle stel mos meer belang daarin om hulleself en hulle eie begeertes te dien as vir God. Hulle spog oor dinge waaroor ’n mens jou eintlik bloedrooi behoort te skaam. Aan God dink hulle nie eens nie, want al wat vir hulle waarde het, is aardse dinge.

Ek het lank gedink of ek mense ken wat Jesus verwerp. Ek ken baie mense in verskillende areas van die lewe en ek sukkel om iemand te kry wat Jesus blatant verwerp. Ek weet daar is van hulle, maar nie eintlik in my vriendekringe nie.

En tog, hoe meer ek na die teks kyk, hoe meer besef ek dat daar baie van ons is wat geneig is om ander dinge na te jaag en nie vir Jesus in die middel van ons lewe te sit nie. Kyk maar na die prentjie van jou lewe. Ons fokus makliker op ander dinge as op God. Is God nie maar net êrens op die kant nie? Trek ons Hom nie maar net so nou en dan nader nie?

Dink sommer vinnig aan jou doen en late die afgelope week. Hoeveel tyd het jy aan jouself en die mense om jou bestee? Hoeveel tyd het jy met Jesus deurgebring?

Skuus, dis dalk baie vrae, maar ons lees so maklik oor die verse en dink dan dit is nie van toepassing op ons nie. Ek weet ek is dalk nou ’n bietjie orig, maar soms moet ons die spieël nader trek en seker maak dat ons nie begin oorleun na die mense wat Jesus blatant wegstoot nie.

So baie van ons energie gaan in ons eie begeertes in. Die oorspronklike Griekse vertaling sê hulle maag is hulle God en hulle gedagtes is net op die aardse dinge.

Oeps! Hoe baie van onsself sien ons hierin?

En nee, dis nie verkeerd dat ons lekker agter die kospotte staan en sappige maaltye voorberei nie. Nog minder is dit verkeerd om die dinge van die lewe hier op aarde te geniet. Ons moet net seker maak dat dit nie oorneem nie, nie ons fokus raak en Jesus in die proses op die agtergrond skuif nie.

Laat ons eerder op Jesus konsentreer. Laat ons oor Hom spog.

Soos die kindjie gesê het: “As Jesus dan so groot is en ook binne in ons kan wees, moet Hy mos orals uitsteek!”

Mag Jesus orals waar jy gaan, uit jou steek!

Om oor na te dink

Watter aktiwiteite neem die meeste van jou tyd in beslag?

Dink jy daar is ’n verandering nodig?

Op watter manier betrek jy vir God by jou lewe?

Gebed

Jesus, U is ons Verlosser en Koning. Help ons om aan U eer te bewys deur U te betrek in alles wat ons doen. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek