God se Woord in vandag se woorde

Waar ware vreugde wegkruip


Filippense 2:12-17

Waar kry ’n mens ware vreugde?

Baie keer in my lewe gaan my vreugde op en af. As die vakansie om die draai lê, of selfs net die naweek, voel ek lekker, maar sodra dit einde se kant toe staan, voel ek nie meer so lekker nie. So asof die Sunday night blues my vreugde kom steel.

Ek besef maar net te goed dat ware geluk nie in vakansies of af-dae lê nie. Dalk moet ons by Paulus leer waar ware geluk vandaan kom:

17Selfs al word ek nou doodgemaak, sal dit my ook nie pla nie, want ek het dan iets om vir God te gee. My dood kan só selfs vir julle help om God nog beter te dien. 18Dit sal my baie bly maak, soos ook vir julle. Julle moet bly wees saam met my. Ja, my vreugde moet julle s’n wees en julle s’n myne.

Uit Paulus se lewe kan ons leer dat ware vreugde jou oorspoel as jy God se verlossende boodskap die wêreld inneem. Met alles in Paulus word hy gedryf om die Evangelie uit te dra. En niks sal hom stop nie. Hy weier om stil te bly, selfs al word hy gedreig om in die tronk gegooi te word as hy nie ophou om te preek nie. Dit stop hom nie. Hy is nie bang nie. Selfs toe hy in die tronk gegooi is en in baie swak omstandighede gebly het, kon hy eenvoudig nie stilbly nie.

Sy vreugdevure brand hoog, want sien, sy vreugde word nie gebou op vakansies en naweke nie. Dit maak nie saak hoe sleg sy omstandighede is nie, hy kan met vreugde dans, want hy hou aan om God se boodskap uit te kry. Sy vreugde lê in die ligte wat in die mense opgaan oor die Evangelie. Eintlik sien ek hoe kry Paulus ’n kick as mense vanuit die duisternis oorgestap kom na God se lig. Dit dryf Paulus en hierin lê sy vreugde.

Paulus hou egter nie hier op nie en vat dit tot die heel vêrste: Hy is selfs bereid om te sterwe, sy liggaam en lewe op te gee vir die uitdra van die Evangelie. Hy wil hierdie opoffering van homself as geskenk vir God gee. Eintlik sal dit vir hom ’n voorreg wees om op die manier iets vir God te bring.

Sjoe, ek weet darem nie of ek bereid is om alles op te gee nie. Ek weet nie of ek my gesin, my vriende, my lewe, my alles sal opgee nie. Ek is eintlik bang ek word een of ander tyd uitgedaag om dit wel te doen en dan weet ek nie hoe ek sal reageer nie. Ek is so bang ek trek kleinkoppie en verloën vir God.

En jy? Is jy bereid om jou alles, selfs jou lewe op te gee vir God?

Ek besef net weer dat ons dikwels ons geluk en vreugde op verkeerde plekke soek. Ware vreugde en geluk lê nie in karre en huise en naweke of vakansiedae nie. Selfs nie eers in ander mense nie. Nee, dit lê in die uitdra van God se Boodskap.

Ons sal mekaar hiermee moet help. Ons sal mekaar moet aanmoedig om die verlossende boodskap van God die wêreld in te dra. Dalk met ’n goeie daad teenoor iemand, dalk met ’n paar bemoedigende woorde, dalk met ’n stukkie onbaatsugtige liefde iemand se swaar help dra. En kom ons sê dit maar reguit vir mekaar: Dit gaan iets van ons vat. Geld, tyd en energie, veral wanneer ons dit die minste kan bekostig. Maar dit is waar die ware vreugde lê. Net hier!

Om oor na te dink

Het jy ware geluk?

Is jy bereid om alles vir ander te gee?

Gebed

Vader, help my om Paulus as voorbeeld te neem en om ook soos hy vreugde daarin te vind wanneer ek die kans kry om iets vir U te doen. Maak my oë oop sodat ek kan weet waar U wil hê ek moet U dien. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?