Waarheid laat ’n mens anders loop
Dis nou die vierde keer dat ons stilstaan by die eerste vers van Paulus se brief aan Titus. Ons het gehoor dat ons een sin-CV ’n opsomming moet wees van hoe ons God se waarheid uitleef. Ons het gehoor dat ons met vreugde ’n dienskneg van God is en dat ons die waarheid wat alle verstand te bowe gaan moet deel.
En nou, vir die vierde preek in die vers: 1… Hierdie waarheid verander elkeen wat dit glo in ’n dienaar van God.
Die vraag is of dit werklik so is. Verander die waarheid, oftewel God se Woord, ons in dienaars van God? As ek Sondag uit die kerk stap, stap ek anders daar uit as wat ek daar ingestap het? Stap ek op ’n ander manier? Het my doen en late anders geword omdat ek my in God se woorde vasgeloop het?
Sjoe, dis ‘n klomp vrae, maar ons moet dit doen. Ons moet vra of ons verander word, anders moet ons dit los, want dan mors ons ons tyd. Ek weet ek is dalk vir sommige nou te reguit, maar dit help nie ons poer-poer op die ou manier aan nie. Ons beïndruk niemand nie. Eintlik nie eens onsself nie, want diep binne ons bly die vrede ons ontglip.
Dieselfde vrae moet ons aan die einde van die dag ook vir onsself oor Kruispad vra. Stap jy anders hier weg, as toe jy begin het? Verander Kruispad se skryfsels jou gedrag?
Wel, as dit jou nie verander nie, wonder ek hoekom jy dit dan nog lees? Is jy besig om jou gewete te sus? Dalk is dit tyd om op ’n klip te gaan sit om seker te maak waar jy so vas in ’n groef geval het, dat selfs die Woorde van God jou nie kan roer om jou gedrag aan te pas nie.
Dis ’n feit soos ’n koei en dis nie ek wat so sê nie, maar God se Woord. Die waarheid kan ’n mens nie ongeroer laat staan nie. Jy moet anders word, al is dit net ’n klein veranderinkie. Wanneer ’n mens deur God se Woord stap en jy die waarhede indrink, raak jy anders. Die eie ek skuif na agter en die vergrootglas val op die ander om jou.
Pa kamp saam met ons. Hy stap amper 40 jaar al ’n pad deur God se Woord. Pa is anders. Hy was eers rof en het daar op die boupersele presies vir die manne vertel wat hy van hulle dink as hulle so mors. Vandag as hy bid, is hy omtrent elke keer in trane, omdat hy so omgee vir die mense wat swaarkry. In plaas van skree en skel, bloei sy hart vir ander.
Die jare se stap deur die Woord, het hom verander. Hy kyk anders na die lewe en sien mense deur die hart van Jesus raak.
En soos ek hier sit en tik het ek net die brandende begeerte om vir jou te bid. “Here, gaan met U kinders. Help hulle om U hart raak te sien. Help U kinders om uit hul groewe te klim en hul harte oop te maak. Mag elkeen se hart oop wees en bereid wees om te verander. Mag elkeen so deur U Woorde en waarhede oorrompel word, dat hulle nie anders kan as om te verander nie. Mag elkeen reguit na U toe loop. Amen.”
Teks
Tit 1:1-4
Om oor na te dink
Verander God se waarheid jou?
Waaraan hou jy vas?
Wat moet jy anders doen?
Gebed
Vader, U weet hoe ek sukkel om te verander. U weet, net soos ek, waaraan ek so vashou. Help my om te los. Help my om toe te laat dat die waarheid my verander. Amen.