Ware waardige gedrag
Dis nogal vir my snaaks dat Die Boodskap-vertaling die vers nie klaar vertaal nie. Daar kom nog ’n eienskap wat ons Christene moet uitleef, by: 7In alles moet jy self vir hulle ‘n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer, waardigheid in gedrag … (1983-vertaling)
Die “waardigheid in gedrag” is nie maklik om te vertaal nie en ek sit lank en wonder wat dit beteken. Die Engelse vertaling van die uncorruptness, begin so ‘n bietjie die betekenis na vore bring. Ons gedrag moet geen teken van korruptheid wys nie.
Die SABC8-boek spook by my. Dis vir my vreesaanjaend om te sien hoe korrup mense kan wees. Miljoene rande van die staat word aan hulself gespandeer. Miljoene rande se bonusse net sommerso aan hulself uitgemaak. Ek wonder hoe bepaal ’n korrupte ou hoeveel nulle hy of sy agteraan gaan voeg?
Hoe slaap sulke skurke? En dan besef ek met ’n skok: Hulle slaap so lekker, want hulle het so met hul eie koppe gesmokkel dat hulle nie dink dit is verkeerd nie. Eintlik, redeneer hulle, verdien hulle dit. Hulle werk hard daarvoor en daarom kan hulle so ’n dik tjek vir hulleself uitmaak. Ha! In hierdie gedrag is daar geen teken van waardigheid nie.
Maar dit is dalk ’n ekstreme vorm van waardige gedrag wat in die hek duik.
Ons smokkel ook soms met ons eie koppe en sonder dat ons dit besef, is daar geen sin van waardige gedrag nie.
Ek kuier by my tjommie in die suide van Namibië en hy vertel my hoe hy amper toegegee het aan sy eie kop se gesmokkel en waardige gedrag by die agterdeur laat uitglip het. Jy sien, Namibiese boere mag geen hormone vir hulle diere voer nie. Dis net natuurlike voeding al die pad (wat Namibiese vleis so lekker laat smaak).
Maar die Namibiërs moet kompeteer met die Suid-Afrikaanse boere en laasgenoemde mag hormone gee. Nou redeneer my vriend. Die skaap gaan in ieder geval na RSA. Die Suid-Afrikaners eet in ieder geval hormone van hulle eie skape. Dit sal mos nou nie saak maak as hulle hormone van die Namibiese skaap ook eet nie.
My vriend bestel die spuite uit Upington.
Die nag droom hy. Hy sit aan sy skoolhoof se tafel. Hy kyk af en sien dat sy hemp vol kolle is. Hy hardloop na sy kamer en soek vir ’n skoon hemp, maar kry nie een nie. Hy soek en soek. En toe word hy wakker en hy besef dat dit nie God se wil is dat hy die hormone inspuit nie.
Hy kanselleer die bestelling net daar.
Jy sien, dis waardige gedrag. Gedrag sonder enige korrupsie. Dis gedrag wat orals in die oopte kan gebeur. Niks hoef weggesteek te word nie.
So maklik smokkel ons kop met ons en kan ons onsself oorreed om dinge te doen wat nie heeltemal bo die tafel is nie.
Kom ons probeer om reg te lewe en in alles waardig op te tree sodat God se waarheid altyd die wenner is.
Teks
Tit 2:6-8
Om oor na te dink
Is al jou gedrag waardig?
Waar lol dit?
Hoe kan jy anders?
Gebed
Hemelse Vader, help my asseblief om sensitief te onderskei tussen reg en verkeerd en nie sommer alles as grys areas te regverdig nie. In Jesus se Naam. Amen.