God se Woord in vandag se woorde

Wat ek is, is net genade


Ek sing Koos Dup se Gebed oor en oor in my kop:

Laat my nooit die grond verlaat nie.

Laat my in U skadu bly.

Gee dat elke aardse vreugde en vrees,

eindelik nietig word vir my.

Elke afdraai paadjie ken ek.

Elke keer het ek verdwaal.

Elke keer het U my iewers kom haal.

Maak dit Heer, die laaste maal.

Elke dag is ’n gedagte.

Elke kamer net gehuur.

Elke aardse droom van rykdom en roem,

net ’n skadu teen die muur.

Wat ek is, is net genade.

Wat ek het, is net geleen.

Eintlik smag ek na U waters van rus.

Lei my Heer vanaand daarheen

Dit lyk so na ’n beknopte CV van sy lewe. Ook ’n beknopte CV van my lewe en dalk van joune. ’n CV waar ons so hard probeer om die lewe reg te loop, maar as ons ons weer kom kry, het ons ’n afdraaipaadjie geneem en totaal verdwaal totdat ons loop sit het en vir God gewag het om ons te kom haal.

Maar dit is in die gewag wat ons besef dat alles ’n gejaag na wind is, dat rykdom en roem maar net aardse goed is en dit wat ons het ook maar net geleen is, want die doodskleed het nie sakke nie.

En wanneer ons weer veilig in God se arms rus, besef ons een ding: Wat ek is, is net genade. Ek kan hoe hard probeer. Ek kan die grootste drome hê en in die sweet van my aangesig hard werk, maar as ek nie omring word met God se genade nie, m.a.w. as God nie in my lewe ’n rol speel nie, as ek nie oorspoel word deur God se goedheid nie, het ek moeilikheid. Groot moeilikheid.

Kom ons sê dit reguit vir mekaar: Ons is 100% afhanklik van God se genade en goedheid. Daarsonder sal die lewe maar sukkel. Daarsonder sal ’n gelukkige, vreugdevolle lewe ons die heeltyd systap.

Laat ons dan nou vir hierdie genade vir mekaar bid. Laat ons God vra om ons geliefdes te oorstroom met Sy genade, want ons het vragte daarvan nodig. Daarom bid ek vandag graag vir jou: 18Die goedheid van ons Here Jesus Christus bly by julle almal.

Shalom!

Teks

2 Tessalonisense 3:16-18

Dink bietjie hieroor

Waar het jy genade in jou lewe nodig?
Vir wie kan jy die gebed bid?

Gebed

Mag die goedheid en genade van ons Here Jesus Christus oor jou reën, vandag, môre en oormôre. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek