Wat jy met bekommernisse moet maak
Die honde blaf my drieuur wakker en ek staan op, maar voor ek stil raak vang my oog die datum en ek sien dis tyd vir die aftrekorders om deur te gaan. My hart sug sommer. Ek maak die spreadsheet met al die uitgawes oop om te sien hoeveel rand in watter rekening moet wees sodat al die uitgawes gedek is.
My oog vang die totale bedrag en ek skrik, want die lewenskoste en uitgawes vir die bediening het aansienlik gestyg. Ek wonder of ons later in die pad af genoeg geld gaan hê… My maag maak ’n draai en ek weet dis spanning wat kom aanklop.
Ek maak my Bybel op die skerm oop en ek lees die teks vir die dag. Ek kry ’n groot smile op my gesig. Kyk nè, God se timing was nog altyd spot on! My mond hang oop:
6Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie.
Dadelik verdwyn die kol op my maag en ’n hoop vrede spoel oor my.
My oog vang die opskrif van die gedeelte: Los julle bekommernisse, lewe in vertroue. En dit is presies wat ons moet doen. Ons moet ons vertroue in God plaas. Ons moet ons pakkies bekommernisse by God los.
Ek staan by ’n vriend wat ’n klankbesigheid het. Ons praat oor die besigheid wat so op-en-af gaan. Hy vertel van tye toe dit swaar gegaan het, maar as hy so terugkyk, sien hy hoe die Here hom elke keer daardeur gehelp het. Wanneer die moeilike tye dan weer sy opwagting by sy kantoor maak, sê hy eenvoudig vir homself: Die Here het my die afgelope tyd elke keer deur die swaar gehelp, hoekom sal Hy dan nou ophou daarmee?
My vriend verstaan iets van wat hy met bekommernisse moet maak.
God wil die hoofvennoot van ons lewe wees. Hy wil nie hê ons moet swaar dra aan ons bekommernisse nie. Wanneer die somme nie klop nie, wil Hy daarvan weet. Hy wil hê dat jy Hom daarvan moet vertel. Hy wil presies weet wat dit is en wat die invloed daarvan op jou lewe is. Hy wil weet van jou maag wat draai, die slaaploosheid en die moegheid van planne wat net nie wil werk nie.
En God sal jou help. As ek die teks reg verstaan, sal God jou help om beter te voel. Krag vir nog ’n dag. Dis ’n belofte. Jy sal weer vrede ontvang, omdat jy weet God is aan jou kant. Nee, die probleem het nie noodwendig bo-menslik in die niet verdwyn nie, maar met God aan jou kant kan jy nou stukkie vir stukkie aan die olifant in die kamer of kantoor begin wegwerk.
Praat met God oor die issues in jou lewe. Maak Hom deel van jou alles en jy sal vrede kry. Watch this space!
Om oor na te dink
Waar lê jou bekommernisse?
Weet God daarvan?
Waar kan jy en God die bul by die horings pak?
Gebed
Vader, U ken my bekommernisse, maar ek wil hulle graag weer opnoem… Amen.