God se Woord in vandag se woorde

Wat laat jy agter?


Soms speel ons die lewe so hard dat ons onsself in ’n hoek vas speel en dan word ons gedwing om eers ’n ruskans te neem. Dit is gewoonlik in hierdie hoekie van die lewe wanneer ons uitkom by die vraag: Wat is die sin van die lewe? Wat maak ek nog regtig op die aarde? Is die gejaag na alles wat vir my belangrik is, regtig die moeite werd? As ek vandag moet doodgaan, wat laat ek agter?

Dit is dan juis hier in die hoekie van die lewe dat besef word daar iets meer in die lewe is. Dan besef mense dat hulle ge-side track is en ons agter ’n skewe ideologie aanhardloop.

Ek onthou nog toe ek by die besigheid was en ek met sulke vrae gekonfronteer was, het ek heel goed gevoel, want volgens die wêreld se standaarde was ek goed voorbereid. My gesin sou op dieselfde standaard kon leef. Daar sou geen skuld gewees het nie. Die huis, die kinders se studies, kos en klere, alles sou klaar betaal gewees het. My nalatenskap in die oë van die wêreld heel voortreflik.

En dan, na ’n paar jaar, is my nalatenskap vergete.

Dit is nou meer as 2000 gelede wat Epafras dood is, maar die gevolg van sy nalatenskap word vandag nog oral oor die wêreld ervaar. Hy het in sy kort tydjie op aarde regtig ’n moewiese impak gemaak.

Hy was een van Paulus se studente en het gaan sendingwerk doen in Kolosse. Die brief wat ons nou lees, is aan die mense in Kolosse geskryf deur Paulus om hulle raad te gee. Maar hoor net hierdie mooi getuienis van Paulus oor Epafras: 7By Epafras het julle alles geleer. Hy is regtig ’n staatmaker en ek hou baie van hom. Hy werk hard saam met my vir die Here. Hy is iemand op wie Christus regtig peil kan trek. Julle het natuurlik ook die vrugte van sy goeie werk gepluk.

’n Staatmaker. Iemand wat altyd daar vir jou is. Iemand wat nie ’n klomp goeie redes het hoekom hy nie nou tyd vir jou het nie. Wanneer jy op sy knoppie druk, is hy daar. Maak nie saak hoe duister of gevaarlik die opdrag nie, hy staan altyd eerste in die ry om te doen wat nodig is.

Hy skroom nie om al sy energie op God se dinge te gebruik nie. Die liefde wat hy vir God het, dring hom, ek wil amper sê dwing hom om God se dinge te doen. Hy kan nie anders nie. Hy kan homself nie keer nie. Die passie loop oor om God se roeping vir sy lewe elke liewe sekonde uit te leef.

En dan is daar noodwendig vrugte. Sy hele lewe lê besaai met goeie vrugte, want sulke dade kan nie anders as om pragtige groot vrugte in God se wêreld na te laat nie.

Sy grafskrif sekerlik: Leermeester, staatmaker, saaier, passievolle werker vir God.

In een vers en vier sinne kry ons ’n prentjie van ’n man van God wat ’n groot verskil gemaak het. Sy nalatenskap is na 2000 jaar nog steeds lewendig.

Ek en jy word noodwendig gekonfronteer met ons nalatenskap. Ja, ons het ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat die geliefdes wat agterbly as ons nie meer daar is nie, sonder enige druk rustig sal kan voortgaan. Maar wat van dit wat werklik saak maak? God se dinge? Het ons regtig ons opdrag hier goed gedoen? Kon God, die geloofsgemeenskap, die samelewing en die mense wat swaarkry regtig op my staatmaak? Was ek altyd beskikbaar? Het ek my deel gedoen en my opdrag en roeping orals uitgeleef? Het ek vrugte gedra?

Sjoe, dis nie maklike vrae nie, maar dalk moet ek dit in eerlikheid voor God probeer antwoord. Dalk moet ek klein treetjies gee, want die opdrag is effe oorweldigend. Op ons eie sal ons dit nie maak nie.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:1-8

Om oor na te dink

Ek vermoed daar is genoeg vrae om te beantwoord in die skryfstuk…

Gebed

Vader, ek besef so goed dat my nalatenskap nog nie in plek is nie. Eintlik weet ek nie lekker waar om eers te begin nie. Help my, Here. Ek smeek U, help my! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?