God se Woord in vandag se woorde

Wat om te glo


Daar gaan ’n tyd kom wanneer mense nie meer in God se verlossende boodskap sal glo nie. Mense sal hulle rug op die evangelie draai en dit as bog afmaak. Sommige sal met slim breingimnastiek probeer om te bewys dat dit waarin ons glo te lig in die broek is om as die waarheid aanvaar te word.

As ek kyk na sommige stories in die koerante en op sosiale media, wonder ek of die tyd nie al aangebreek het nie. 1Die Heilige Gees het baie duidelik gesê dat in die tyd voor die Here weer kom party mense niks meer met geloof te doen sal wil hê nie. Hulle sal eerder agter geeste aanhardloop wat hulle op verkeerde paaie lei en sal gretig luister na wat demone vir hulle vertel. Dit sal gebeur wanneer hulle hulle ore uitleen aan mense wat kamma goed is, maar eintlik almal kul en vir almal lieg.

Hierdie woorde kom nie sommer van ’n gewone mens nie, maar word deur die Gees van God oorgedra. Die woorde het krag en ons moet dit ter harte neem.

Faceboek-vriende sê openlik dat hulle nie meer glo nie. Hulle lag vir die kerk. Hulle skree simpel woorde na mense wat glo dat daar ’n lewende God is wat in ’n verhouding met Sy skepsels wil staan. Dit wat hulle voorheen geglo het en sommige van hulle selfs vanaf kansels gepreek het, is nou die middelpunt van hulle grappe.

Die vers het reeds ’n werklikheid geword in ons tyd.

Dis egter al hoe moeiliker om raak te sien waar mense nie op die regte pad is nie. In ’n lewe waar everything goes, is dit moeilik om te onderskei tussen reg en nie heeltemal so reg nie. Dit is belangrik dat ons sal seker maak dat ons elkeen op die regte pad is. Dat ons op God se pad is. Ons moenie ons ore uitleen vir ander se stories nie, want sonder dat ons dit agterkom, is daar dalk iemand anders agter daardie woorde. So maklik vermom die duiwel hom en ons trap pens en pootjies in die strik.

Op ons eie is ons eenvoudig net te kragteloos om die vyand aan te vat. Daarom moet ons elke dag ruimte maak vir die stem en die werking van God se Heilige Gees. Soos Rinda (skuilnaam) vertel:

Die afgelope 10 jaar stap die Here ’n baie spesiale pad met my en my gesin. Dit het ons lewens totaal verander.

Swaarkry en groot skrik het ons oë oopgemaak. Ons het geleer om stil by Jesus se voete te gaan sit en om elke dag met ons hele hart ingestel te wees op Sỳ wil vir ons lewe. Hy spel dan sonder enige twyfel daardie pad duidelik uit.

Die Heilige Gees lê iets so duidelik op my hart, bevestig dit oor en oor, totdat ek, t.s.v. en a.g.v. my menslikheid, oortuig is van Sy wil. En dan slaan my asem altyd weg, en ek lag sommer kliphard, as dinge voor my oopval en ek net kan vorentoe stap en Sy wil uitvoer.

Ongeag of die president of ministers droogmaak, of die rand verder val, of RSA en Europa se stelsels inmekaarstort, God se Koninkryk gaan voort vir ons wat daagliks Sy dissipels wil wees. Ek kyk met ’n ander oog na alles en stap hand-aan-hand met God wat van my gehoorsaamheid vra. En dis ’n avontuur duisend!

Val die vyand my en my gesin aan? Ja! Oor en oor. Maar deur die genade herken ons die duiwel en sy manewales en help die Here ons weer op.

Só moet ons elkeen elke dag leef. In die skadu van die Heilige Gees. Dis al manier hoe ons God se pad kan raaksien om daarop te stap.

Teks

1 Timoteus 4:1-5

Dink bietjie hieroor

Glo jy reg?
Hoe weet jy?
Is die Heilig Gees deel van jou lewe?

Gebed

Vader, U is die enigste weg. U is die enigste ware God. Sonder U is daar geen rigting nie en ploeter ons net rond. Help my om ruimte te maak vir U Gees. Help my om nie agter my eie neus aan te stap nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek