God se Woord in vandag se woorde

Wat sê ander gelowiges oor jou werk?


Die boodskap is eenvoudig: Ons moet ons werk 100% doen. Niemand moet ooit ’n vinger na ons kant kan wys nie. Christene moet vir ander mense wys hoe word daar eintlik gewerk.

Ons weet mos van die ekstra myl wat geloop moet word, maar wie staan eerste by die deur as die vyfuur klok slaan? Wie staan die meeste en gesels met ander?

Respek …

Wanneer jy jou werk goed doen, sal die respek wat jy vir ander mense, vir jou werkgewer en vir God het, raakgesien word. Dan sal ander mense ook vir jou respek hê. Dan sal die grond waar die saad van die Here val, makliker ontkiem en beter groei. En die belangrikste van alles: Ander mense sal nie vir God sleg sê omdat jy nie jou werk doen nie.

2As die baas ook ’n Christen is, moet die slaaf nie dink dat hy die baas met minder respek hoef te behandel omdat hulle saam aan God se geestelike familie behoort nie. Christen slawe moet eerder nog beter werk, want hulle werk vir mede-Christene vir wie hulle lief is. Wat hulle doen, is mos tot ’n ander Christen se voordeel.

Ons het ’n verantwoordelikheid om voor te stap as werknemers. Ons moet vir die wêreld en ons mede-werkers wys hoe word dit eintlik gedoen, want dit is juis hierdeur dat God se naam verheerlik word.

Die manier waarop ons werk, kan ook ’n invloed hê op hoe ander mense Christene beleef. Ons getrouheid kan ’n positiewe of ’n negatiewe invloed op die verkondiging van die evangelie hê.

Mense hou mekaar fyn dop. Dit lyk nie eintlik of hulle kyk nie, maar tog word al jou doen en late stukkie vir stukkie geweeg.

God roep jou om in die markplein voor te stap. Lig jou kop en soek plek om nóg meer te doen. As kinders van God kan ons mos nie anders nie!

Ons elkeen is geroep om daar waar ons is ’n verskil te maak. Tannie Mary is geroep om in haar gemeente ’n verskil te maak:

Ja, elkeen is geroep om sy deel te doen. Ek is leier van ons biduur in die kerk. Ons is 28 lidmate wat een keer per maand bymekaar kom. Gewoonlik reel ons ’n spreker. Ek reël dit al 22 jaar en dit is vir my wonderlik om die Here op die manier te dien. Ek is 84 jaar en nog gesond om aan te gaan tot ek nie meer kan nie.

Tannie Mary ken haar roeping. Sy weet wat haar verantwoordelikheid is en dit bevestig maar net wat ek altyd sê: Jou roeping en verantwoordelikheid om God se opdrag vir jou lewe elke dag te doen, tree nooit af nie.

Mag ons as Christene voor stap. Mag ons elke jaar die beste werknemer van die jaar toekenning wen en ag, al is daar nie so ’n prys by jou werk nie, is die wete dat ons vir God werk en Hy tevrede is met ons werk, oorgenoeg.

Teks
1 Timoteus 6:1-2

Om oor na te dink
Wat sê ander mense van God as hulle na jou werk kyk?
Gee jy alles?
Wat kan jy meer doen?

Gebed
Here, ek wil graag U Naam hoog hou deur die manier waarop ek werk en ander mense hanteer. Help my om ’n voorbeeld te wees. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek