Wat ware waar is
Soms is dit vir my moeilik om te onderskei tussen wie nou eintlik reg is oor God se dinge en wie sit die pot mis. As twee mense uit verskillende rigtings begin praat oor dit waarin hulle glo en wat die mens te doen staan, klink albei vir my reg en ek wil sê: kom ons vat hande en loop saam die wêreld in.
Tog, as ek mooi gaan sit en dink, sit die ouens nie om dieselfde vuur nie. Maar alles klink so reg. Dit klink soos ware wysheid en dan begin ek met my eie kop smokkel dat ek nie slim genoeg is om alles te verstaan nie. Die dilemma is dat ek soms self nie weet watter een die naaste aan die waarheid is nie.
Dikwels is die ouens se stories nie heeltemal op die regte pad nie. Daarom waarsku Paulus: 23’n Mens moet toegee, al hierdie godsdienstige dinge lyk op die oog af baie slim en indrukwekkend, al het mense dit uitgedink. Kyk net hoe nederig hou hulle hulle en hoe swaar kry hulle ter wille van dit waarin hulle glo. Tog maak dit nie van hulle beter mense nie. Hulle bly nog maar sondaars.
Dit klink so mooi na die waarheid. Wysheid is regoor alles geskryf. Die praatjies en die mense self is baie indrukwekkend en terselfdertyd so nederig, maar eintlik is dit ’n bol niks.
Die 1983-vertaling beskryf dit mooi: 23Hierdie leerstellings het wel ‘n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.
Wanneer die paw-paw die fan strike, kom die ouens se godsdiens-wiele af met die netto effek dat hulle net dieper in die sonde verval. Die probleem is dat hulle selfgemaakte reëls geen krag het nie. Hulle wil die heeltyd uit eie krag hulle plek in die hemel inwerk. So asof die vermyding van sekere kosse jou ’n gratis toegangskaartjie waarborg.
Ons mors ons energie as ons na mense luister wat ons wil vertel oor allerhande voorskrifte wat ons moet volg. Ons laat toe dat ander ons weer in die greep van godsdienstige goetertjies laat verval. Dit veroorsaak dat ons eintlik ’n streep deur Jesus se kruisdood trek.
Hoor mooi wat die heel belangrikste is: Jesus het gesterf vir die straf van my en jou sondes. Ons hoef en kan niks méér doen om ons verlossing te bewerk nie. Jesus het alles klaar gedoen. Ons is nou nie meer slawe van die wette van Moses óf van die bande wat die sonde om ons gebind het nie. Ons hoef nie meer al die rituele van die Ou Testament stap vir stap na te volg nie – ons sal dit, net soos die Israeliete, in ieder geval nie naastenby regkry nie.
Ware wysheid lê daarin om Jesus te volg. Dis slim en indrukwekkend om soos Hy te leef. Wanneer ’n mens só probeer lewe, raak ’n mens nederig en ja, dis nie altyd maklik nie, maar ten minste val ons al hoe minder in die poel van sonde.
Leef vry.
Teks
Om oor na te dink
Water dinge in jou lewe maak jou vas?
Hoe kan jy loskom?
Hoe moet jy die vry lewe van Jesus laat grondvat in jou lewe?
Gebed
Jesus, help ons om nie te fokus op enige wettiese godsdienstige reëls of argumente wat misleidend is nie. Ons wil toegewyd aan U lewe, vry van die bande van sonde en vry om die lewe saam met U te geniet. Amen.