Wat wil God vir jou hê
Die grootste uitdaging vir elkeen van ons, is om volgens die wil van God te lewe. As ons net dit kan regkry, sal dit met ons goed gaan. Ons het wysheid nodig. Elke dag word ons gekonfronteer met ’n hoop keuses en op ons eie maak ons dit nie. Daarom het ons die Heilige Gees nodig om ons met ’n klomp wysheid te oorlaai. Ja, 10Dan behoort julle mos nie te twyfel oor wat presies God van julle wil hê nie… sê Paulus.
Die soeke na God se wil is egter nie ’n nuwe ding nie. As ’n mens deur die Psalms blaai, sien jy dat die grote Dawid keer op keer na God roep. Hy smeek God om hom te help omdat hy nie herwaarts of derwaarts geweet het nie:
Psalm 27:11 Here, vat my hand. Lei my op ’n pad waar daar nie slaggate is nie. Wys my hoe om reg te lewe. Pas my op. Lei my.
My vrou praat met my seun en probeer vir hom verduidelik hoe om die regte keuses te maak. Sy sê as hy agter Jesus aanloop, sal dit goed gaan en hy sal weet wat om in elke situasie te doen, maar sodra hy kies om nie meer agter Jesus aan te loop nie, gaan hy makliker verkeerde keuses maak.
Maar wat beteken dit in die praktyk, daar waar ek elke dag binne God se wil moet loop? Net in die volgende verse daal die wysheid oor Dawid neer en maak hy ’n paar goeie voorstelle om ons te help om by God se wil vir ons lewe uit te kom:
13Dis net my geloof in die Here wat my staande hou.
Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. As ek dit darem nie geglo het nie …
14Stel al jou hoop op die Here! Vertrou op Hom! Hou moed! Wees sterk! Moenie die handdoek ingooi nie; bly wag op die Here!
Geloof, hoop, vertrou, moed hou, aanhou sterk wees, probeer weer, staan op, hou die handdoek styf vas en gaan sit by God se voete. Elkeen van dié moet ons motto wees, want as ons dit regkry, sal ons vir seker binne die wil van God bly.
As ons dit regkry, sal die netto effek die volgende wees:
10… En as julle weet wat om te doen en dit doen, sal die Here trots wees op julle en tevrede voel oor hoe julle leef. Mag alles wat julle doen vir julle goeie vrugte dra en julle meer van God se plan vir julle lewe laat verstaan.
Hoe smag ek nie daarna nie? Hoe graag wil ek nie ’n glimlag op God se gesig sien as Hy na my dade kyk nie?
Ek besef maar net weer dat ek meer moeite moet doen om stil te word. Soos Dawid smeek ek vir God om met Sy Heilige Gees my hand te neem en my die pad te wys. Dit gebeur daar in die stilte. Daar by Sy voete vorm God my en ontvang ek wysheid vir die dag se keuses. Daar raak my geloof sterk, kan ek weer hoop, kry ek moed, staan ek uit die as op en wil ek nie meer tou opgee nie.
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Wat is God se wil vir jou lewe?
Is jy seker?
Maak jy genoeg tyd vir God?
Gebed
Vader, met my hele hart wil ek U wil doen. Ek wil hoop, glo, vertrou en binne U wil leef. Ek besef ek moet meer tyd maak om by U voete te sit. Help my Here, want ek kry dit nie reg nie. Amen.