God se Woord in vandag se woorde

Wees bly


Filippense 4:1-9

Onthou jy nog die kinderliedjie: Verbly jou in die Heer?

Filippense 4 vers 4 sê verbly jou in die Heer
Verbly jou, verbly jou, verbly jou in die Heer
Filippense 4 vers 4 sê verbly jou in die Heer…

Die Boodskap-vertaling sê dit so: 4 Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees.

Maar as ek so om my kyk, sien ek nie baie bly mense rondloop nie.

Baie soek hulle vreugde op verkeerde plekke. Baie mense leef net vir die naweek, want hulle vind slegs vreugde in die dinge wat hulle naweke aanvang. Is die naweek egter verby, is die lekker ook weg. Daarom dat ’n naweek gewoonlik vir hulle gevolg word deur ’n blou Maandag. Om die pad na die naweek korter te maak, word Woensdag klein Saterdag genoem.

Ai, ons kan soms op sulke verkeerde plekke vreugde loop soek.

Besef ons dan nie dat ons vreugde nie uit onsself kom nie! Vreugde wat uit onsself kom, is van korte duur en het ’n vervaldatum. Dié vreugde is te lig in die broek en sodra enige wind van voor af kom word die vreugde by die venster uitgewaai en sit ons weer in sak en as.

’n Vriendin van my is gisteraand oorlede. Sy’s in die veertig gewees en het vir omtrent 15 jaar met kanker gestoei. Soos ek hier sit en skryf, pop ’n prentjie van haar die heeltyd by my op. Dis ’n prentjie van iemand wat weet waar ware vreugde vandaan kom en wat haar lewe voluit geleef het met ’n moewiese glimlag op haar gesig. Waar ’n halwe gaping was, het sy enige iemand gegryp om te dans. Ek sien haar nog so saam met die ritme draai en draai en draai…

Ai!

Ons moenie toelaat dat ons gemoed bepaal word deur die omstandighede waarin ons is nie. Jesus bepaal ons gemoedstoestand. Dink maar net aan jou sonde. Dink net waarheen jy eintlik op pad was. Dink aan die straf waarop jy eintlik geregtig is en wat jy verdien. Dink daaraan dat Jesus in jou plek vir jou die straf gedra het. Net die gedagte aan ons Verlosser wat vir ons die hekke van die hemel oopgemaak het, moet ons laat bokspring van ware geluk.

En tog is ons maar mens en sodra die kleinste ongeluk ons tegemoet stap, val ons tussen die vloer en die politoer. Maar dan het ons ’n verantwoordelikheid om onsself op te tel en ons fokus te skuif na ons Verlosser. Dan sal vreugde en vrede ons plat duik.

Te midde van ’n swaard oor haar kop, het my vriendin voortdurend geglimlag. En ek weet sy is besig om in die hemel met almal te dans. Haar lewe was ’n voorbeeld vir ons almal van wat dit beteken om jou in die Here te verbly. Ja, sy het oorgeloop van blydskap omdat sy aan die Here behoort.

I salute you, Dereen! Jy het vir my en ons vriende geleer wat dit werklik beteken om jou blydskap in Jesus en God te soek. Ek eer God vir jou lewe.

En in my kop sing ek:

     Filippense 4 vers 4 sê verbly jou in die Heer
     Verbly jou, verbly jou, verbly jou in die Heer
     Filippense 4 vers 4 sê verbly jou in die Heer…

Om oor na te dink

Waar kry jy jou blydskap?

Gaan dit op en af?

Wat het Jesus daarmee te doen?

Gebed

Jesus, hoe bly is ek nie oor U nie. Ek besef dat my fokus net op U moet wees, want dan sal my vreugde ook van U af kom. Help my om nie in my omstandighede vas te kyk nie, maar my oë op U te vestig. Dan sal ek bly wees. Dan sal vreugde uit my lewe stroom. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?