God se Woord in vandag se woorde

Wees orals nugter!


Ek sit effe mismoedig. Daar is so baie seer in die wêreld. Dis huwelike wat uitmekaar val en kinders wat seer op die slagvelde van die lewe lê. Besigheidsmanne weet nie wat die woord etiek beteken nie en verwoes ander se lewens sonder om ’n oog te knip. Selfs kinders van God help met die saai van verwoesting en mense lê en bloei. Orals, orals, orals.

Ek wonder hoe God daaroor dink? Ek wonder hoekom dit so is? Waar lê die oorsaak van die vrot besluite wat ons maak?

Petra gee met een sin ’n kykie in haar man se binneste: My man het ‘n ander, jonger vrou ontmoet. Hy het nie sy voor en nadele op geweeg en nugter gedink nie.

Ja, dis die antwoord op my gewonder: ons sukkel om nugter te dink. Om die waarheid te sê, sukkel ons om net eenvoudig te dink. Ons neem besluite sonder om rêrig daaroor te dink. Soos Petra se man gedoen het. Dalk het die jonger vrou hom beter laat voel. Dalk het iets gejeuk en toe neem hy ’n besluit sonder om te dink. Sonder om te vra wat is die regte ding om te doen. Sonder om te dink aan die gevolge. Sonder om te dink …

En voor ons te veel vingers na Petra se man en die ander wys wat slegte besluite neem, moet ons eers ’n draai by ons eie keuses gaan maak. Gaan loer ’n bietjie na die klein oorloë in jou lewe. Hoeveel het te doen met jou en ander se keuses wat nie lekker vars was nie?

Jy sien, ons maak besluite sonder om alles in ag te neem. Ons laat toe dat ons emosies te ’n groot rol speel. Ons trek nie alles netjies uitmekaar en weeg die voordele en nadele teenoor mekaar op nie. En so is die gevolge katastrofies.

Kinders van God 8… moet nugter en beheersd wees. In alle omstandighede moet hy in beheer wees.

Dis ’n opdrag. In alle besluite. Grotes en kleintjies. Daar by ons geliefdes, waar hulle dinge aanvang waarvan ons nie hou nie. By die werk, waar dit soms taai gaan en ons moet besluit hoe ons gaan reageer. Die heeltyd moet ons besluite neem. As ons elke keer nugter kan dink, sal daar soveel minder moeilikheid in ons wêreldjies wees.

En wat dit moeiliker maak, is dat ons bagasie inbring. My vrou sukkel om die program te bemeester waarmee ons die opnames vir ons radiopraatjies maak. Wanneer sy daar uit die stoorkamer, waar ons die opnames maak, roep, dan skuif my temperatuurmeter sommer ’n paar grade op. As ek dan daar by haar opdaag is my stem se volume knoppie reeds effe opgedraai.

Dis die emosies van die verlede se sukkel se skuld. Nee, dis my skuld wat toelaat dat die emosie van die verlede my besluit oor hoe ek gaan optree mistig maak. Geen teken van nugterheid en nog minder in beheer. En voor ons ons kan kry, is daar ’n ligte oorloggie.

Kom ons sê dit nou vir mekaar: Op ons eie is ons te lig in die broek vir al die besluite wat ons elke dag moet neem. Ons moet versterkings inkry. Ons moet die Heilige Gees vra om te kom help. Maar ons moet ons deel ook doen en elke keer voor ons reageer, eers net diep asemhaal en ’n pakkie nugter denke uitpak.

Teks
Tit 1:6-10

Om oor na te dink
Hoe lyk jou besluite?
Waar sukkel jy om nugter besluite te neem?
Waar moet jy meer beheer inkry?

Gebed
Heilige Gees, help my om my wil ondergeskik aan U wil te stel. Soms voel ek swak en moet maar hard baklei teen die vlees. Maak my sterk en maak my nugter. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek