Werk as lig daar waar jy werk
Toe ek as jong man in Engeland was, was die Suid-Afrikaners hoog op aanvraag. As jy as Suid-Afrikaner aansoek gedoen het vir werk, was die kans baie goed dat jy dit sou kry. Want Suid-Afrikaners was hardwerkend. Hulle hande het vir niks verkeerd gestaan nie en hulle was nie bang om werk te doen waarvoor die Pommies hul neuse opgetrek het nie.
Die jong werksoekende Suid-Afrikaners se naam het hulle vooruitgeloop, omdat die wat voor hulle daar was, goeie werknemers was.
En eintlik moet dit ook so wees van Christene. As mense hoor dat jy as Christen vir ’n werk aansoek doen, moet hulle jou dadelik wil aanstel, omdat jou voorganger broer of suster so ’n goeie werknemer was. Maar ai, ongelukkig is die teenoorgestelde die waarheid. In my tydjie as werkgewer was ek later so op my hoede vir ouens wat met hul Christenskap op hul mou geloop het, dat ek twee keer sou dink voor ek so iemand sou aanstel.
Dis jammer.
Hierdie opdrag geld vir elkeen van ons: 10Ook moet hulle nie dinge steel nie sodat ander moet kan sien dat hulle in alles eerlik en betroubaar is. Dan wys hulle dat hulle geloof nie net ’n klomp dooie reëls op papier is nie. So word die leer oor ons wonderlike God en Verlosser nog meer aantreklik.
In alles moet ons eerlik en betroubaar wees. Ons moet die werk doen asof dit ons besigheid is. Ons elkeen moet inkoop in die eienaar se droom en ons beste gee. Nee, ons moet meer doen. Ons moet eintlik plekkies soek waar ons nog meer waarde kan toevoeg en die besigheid tot nog hoër hoogtes neem.
Om ’n Christenwerknemer te wees, beteken nie net dat jy nie sal steel nie. Nee, die werknemer moet altyd gereed staan om nog te doen. Die werknemer moet altyd betyds wees, soms eerder effe vroeër. Hy of sy sal altyd die opdragte wat gegee word, tot die beste van hulle vermoëns doen.
Henry (e-sword) voeg by:
keeping his secrets and counsels, despatching his affairs, and managing with frugality, and to as much just advantage for his master as he is able; looking well to his trusts, and preventing, as far as he can, all spoil, or loss, or damage.
Baie keer dink werknemers dat hulle maar aan die onderkant van die voedingsketting sit en nie veel vir die Koninkryk van God kan beteken nie. Maar dit is so vêr van die waarheid af. Elkeen van ons word geroep om daar waar ons werk ’n helder skynende lig te wees. Wees jy ’n goeie werkende lig daar waar jy werk. Doen jou deel en meer. Doen wat God wil hê jy moet doen. Doen jou roeping.
En as jy ’n werkgewer is, maak dit vir jou werknemers maklik om goeie Christenwerknemers te wees. Want dan kan die hele wêreld sien hoe wonderlik ons Vader is. Dan sal hulle met hulle eie oë kan sien wat Jesus se verlossing aan die kruis beteken.
En so word God se Naam verheerlik.
Teks
Tit 2:9-10
Om oor na te dink
Doen jy jou deel by die werk?
Doen jy meer as wat van jou verwag word?
Wat verwag God van jou daar by die werk?
Gebed
Here, hoe kan ek in my werksomgewing ‘n goeie Christenwerker wees? Help my om die moed en wil te hê om dit nou anders te begin doen. Amen.