God se Woord in vandag se woorde

Wie loop in jou voorbeeld-spore?


Soms kan ek nie help om te lag as ek sien hoe my seun in sekere situasies presies optree soos wat ek opgetree het op daardie stadium nie. En dit is baie maal nie goed waaroor ek al ooit met hom gepraat het nie. Nee, hy sien hoe ek sekere situasies hanteer en dan doen hy presies dieselfde.

Elke verhouding is anders. Elke man en vrou tree verskillend op teenoor hulle eggenote. Maar dit is interessant om te sien hoe kinders dikwels hulle ouers se voorbeeld volg in hulle verhoudings met die ander geslag.

Ek ken ’n paartjie waar die man en vrou nie sigbaar liefdevol teenoor mekaar optree nie. Inteendeel, ek het nog nooit gesien dat die vrou aan die man vat nie – nie dat daar iets verkeerd met hulle huwelik is nie. Dit is net hoe hulle optree. Hulle dogter tree presies só op teenoor die ander geslag. Sy wys min emosie. Dalk omdat sy nooit gesien het hoe dit gedoen word nie.

Wanneer ’n mens bewus raak van hoe jou eie kinders jou gewoontes en maniere naboots, kom jy agter hoe groot jou verantwoordelikheid is om ’n goeie voorbeeld te stel. ’n Goeie vriend van my spot altyd en sê: “Moenie doen soos wat ek doen nie, maar doen soos wat ek sê.” Hy spot, want hy weet dit werk nie eintlik so nie. Mense word makliker beïnvloed deur wat jy doen as wat jy sê.

Mense is al so om die bos gelei deur ander se tonge dat hulle nie meer net wil doen wat gesê word nie. Hulle sal wel twee maal dink as hulle dit wat jy sê in jou dade raaksien. Daarom die spreekwoord: Woorde rek, maar dade strek. Dade gaan baie verder as woorde.

Timoteus was baie bevoorreg, want sy ouma en ma het voor in die paadjie gestap en hy hoef hulle net te volg: 5Ek dink nogal baie aan jou en hoe opreg jy op die Here vertrou. Jy aard so reg na jou ouma Loïs en jou ma Eunice. Ek weet dat jy ook op die Here vertrou soos hulle.

Ek wonder of Timoteus op dié pad sou wees as sy ouma en ma nie vir hom gewys het waar hy moet loop nie? Loïs en Eunice was dalk nie groot predikers en mense wat ander mense na die Here kon lei nie, maar die gevolg van hulle dade is dat hulle gehelp het dat een van die begaafde jong predikers van daardie tyd op die regte pad begin loop het. Die manier waarop die twee vroue hulle geloof uitgeleef het, het verrykende gevolge vir die Christendom gehad.

Die feit dat ek vandag op my paadjie loop, het baie te doen met die feit dat my ma en pa voorgeloop het. My ma het my gewys wat dit beteken om te alle tye aan God vas te klou. Sy het nie baie gepraat nie.

As ek so na my eie lewe kyk, wonder ek in watter rigting help ek my seun en my dogters. Sal hulle ook eendag ’n dankie-sê briefie vir my skryf en my bedank vir alles wat ek vir hulle gewys en geleer het, omdat dit hulle gehelp het om op God se spore te loop? En nou praat ek sommer van al die klein goedjies ook. Hoeveel maal het hulle my gesien waar ek met my Bybel oop en my oë toe sit?

Om die lewe reg te leef, is ’n groot verantwoordelikheid. Of ons dit nou wil weet of nie, ons kinders, ander mense se kinders en ander mense gebruik dalk ons optredes as riglyne. Hulle weet nie altyd hoe om te maak nie. Hulle weet nie altyd eers watter vrae om te vra nie. Daarom kyk hulle maar. Dit is makliker en dan doen hulle so.

Ek is wie ek is vandag, omdat Pa Gerjo en Ma Helmine so gedoen het.

Teks
2 Timoteus 1:3-7

Om oor na te dink
Vir wie is jy ’n padkaart?
Hoe lyk die pad waarop jy hulle lei?
Is daar ’n paar veranderings wat jy moet maak?

Gebed
Vader, ek besef maar net weer die groot verantwoordelikheid wat ek het om met verantwoordelikheid voor te stap. Ek besef dat ek dit nie altyd regkry nie. Vader, help my om al agter U aan te stap, want dan weet ek die ander kan maar net volg. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek