God se Woord in vandag se woorde

Wortels van geloof


Ek het al agtergekom dat geloof nie ’n issue is nie, totdat een of ander moeilikheid ons tref. Dan pop daar ewe skielik ’n klomp vrae op en voor ons ons kom kry, staan twyfel aan ons deur en klop.

  • Ek wonder waar is God?
  • Hoekom laat God dit toe?
  • Hoe is God betrokke by die swaar in my lewe?
  • Gee God nog aandag aan ons?
  • Hoor God as ons bid?
  • Help dit om te bid?
  • Dit voel vir my asof my gebed nie veel verder as die plafon trek nie.

Dan kom die wiele van ons geloof af en ons sit in die woestyn sonder die krag van geloof. Op ons eie.

Daarom stel Paulus voor: 7Staan onwrikbaar vas in dit wat julle glo, soos julle geleer is. Doen dit terwyl julle gedurig vir God dankie sê en Hom eer. Die 1953-vertaling sê: 6wandel so in Hom, 7gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof.

Soos wat die wortels van ’n groot boom diep gegrond is in die aarde, so moet ons geloof diep gegrond wees in Jesus Christus. Die winde kan maar waai daar bo. Die boom kan heen en weer swaai, maar dis die wortels wat keer dat hy nie omval nie.

Wanneer waai bome om? As die wortelstelsel te lig in die broek is vir die winde wat waai. Dís wanneer die wortels sy greep verloor en die wind en weer die oorhand kry. Dan word die boom uit die aarde geruk en dit is die laaste sien van die blikkantien.

Dis presies dieselfde met ons geloof. As ons geloof te lig in die broek is en nie dik en sterk wortels het nie, gaan ons geloof ook in die hek duik as die winde en storms van die lewe ons tref.

My pa was ’n groot Bonsai-boer. Het jy geweet Bonsai beteken “boom in ’n bak”? Ek het my altyd verwonder aan die klein boompies wat soos groot bome lyk. Dit is nie maklik om die boompies so klein te hou nie. Behalwe om dit gedurig te snoei, moet die boompies gereeld oorgeplant word. Die grond word alles uitgespoel en die wortels baie teruggeknyp. Die gevolg is dat die boom klein bly, maar oud lyk.

Die Bonsai-boom se wortels laat hom nie toe om ’n groot boom te word nie. Baie van ons groei egter soos groot bome, maar ons wortelstelsels is soos dié van ’n bonsai. Geen wonder dat ons so maklik begin twyfel as die eerste windjie van die lewe deur ons takke waai nie. Ons begin bewe, want ons wortels in die geloof is te min om ons staande te hou.

Ons weet dat bome water en kos nodig het om ’n goeie wortelstelsel te ontwikkel. Net so het ons geloof ook water en kos nodig om ordentlik te groei. Ons moet genoeg tyd met God en sy Woord deurbring om kos te kry vir ons geloof. Ons moet ons hele lewe op al die vlakke vir God gee, want dan sal ons sterk genoeg raak en sal ons geloof staande bly in die stryd van die lewe.

En om balans te hou moet ons voortdurend vir God dankie sê, want dis juis hier waar ons besef dat alles in God se hande is. Sonder Hom is ons niks en kan ons wortels nie dieper en dieper groei nie. Aan God kom al die eer toe.

Teks

Kolossense 2:6-8

Om oor na te dink

Duik jou geloof soms in die hek?

Wat kan jy doen om ’n sterker geloof te kry?

Hoe gaan jy dit doen?

Gebed

Vader, my geloof se wortels kan net sterker en dieper word wanneer ek tyd met U deurbring. Herinner my deur U Gees wat in my woon dat dit beter met my sal gaan in die storms wanneer my geloof in U gewortel is. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?