God se Woord in vandag se woorde

WOW-oomblik


My suster se seun het hard gewerk aan sy twee grade op Universiteit. Soos baie gegradueerdes vandag, het hy eers vir ’n paar jaar in die ooste gaan klasgee om só sy koffers ’n lining te gee. Met sy terugkoms na Suid-Afrika kry hy ’n vooraanstaande werk.

Hy kan heel tevrede voel met sy pad tot hier. Sy toekoms lê blink voor hom. Tot die dag toe hy verby ’n ernstige ongelukstoneel ry. Hy stop dadelik en help een van die mense wat baie seergekry het. Dis die eerste keer dat hy op ’n ongelukstoneel is.

Toe hy daar wegry, besef hy dat iets met hom aan die gebeur is. Met nadere ondersoek besef hy dat dit is wat hy wil doen vir die res van sy lewe. Hy wil mense in nood help. Hy wil mense se lewe red. Dit is sy roeping in die lewe.

Kort daarna het hy bedank en ingeskryf vir ’n vier jaar paramediese graad. Ek haal my hoed vir hom af. Ek bewonder hom wat besef het hoekom hy hier op aarde is. Hy het teen die gewone gang van die lewe gegaan, alles gelos en homself bemagtig om sy roeping ’n werklikheid te maak.

So weet ons teen die tyd dat ons almal ’n roeping het. Ons elkeen het ’n spesifieke pakkie gawes gekry en ons moet daarmee woel. Ons almal het egter ’n generiese roeping, ’n roeping wat ons almal moet doen – om mense te red.

Ons moet dié wat saam met ons die lewe leef, help om nie in die ewige vuur dood te brand nie. Ons moet die regte pad aanwys sodat hulle self kan kies om weg te stap van die pad na die dood.

16… As jy op hierdie pad bly, sal nie net jy by God uitkom nie, maar ook almal wat luister na wat jy vir hulle sê.

Die uitdaging is dus nie net om self op die pad te bly en by God uit te kom nie, maar om ook ander te help om daar uit te kom. Dis ’n opdrag aan ons almal. Dis ons almal se generiese roeping.

Vir my suster se klong gee dit die grootste tevredenheid om mense in nood by te staan. Sonder dat dit van hom verwag word, meld hy aan as vrywilliger om naweke diens te doen by noodeenhede. Hy kan homself nie keer nie. Dit brand hier binne hom om ander se nood te verlig.

So moet ons ook wees. Ons moet elke dag vir God vra om ons oë oop te maak vir ander se nood. Onthou, mense met geestelike nood, steek dit weg. Soms weet mense nie eers dat hulle in die nood is en op pad is om na die dood te val nie. Daarom moet ons vir God vra om ons sensitief te maak daarvoor.

Ons moet hande vat met die Heilige Gees sodat Hy ons kan help om reg te lewe. Ons moet só leef dat ander ook sal smag na die lig en sal hunker na die ware lewe. Maar meer nog, ons moet toelaat dat die Heilige Gees ons hand neem sodat ons dié wat in nood is, kan help. Dié wat geestelik nog dood is. Dié wat geestelik nog nie by God uitgekom het nie. Dis oor hulle vir wie ons almal geroep is.

Ek weet nie wat om dit te noem nie, maar kom ons sê maar dit was een groot WOW-oomblik in my lewe. Eendag kry ek ’n e-pos van ’n dame wat sê dat sy op pad was om haar eie lewe te neem toe daar ’n boodskap van Kruispad inkom. Sy het die selfdoodpoging nou eers gelos.

Dit was ook ’n groot WOW-oomblik in my lewe.

Mag daar in jou lewe baie WOW-oomblikke wees. Mag jy die mense wat op pad is na die hel, raaksien en mag jy met die hulp van die Heilige Gees ’n lewensredder wees.

Teks

1 Timoteus 4:6-16

Om oor na te dink

Glo jy dat God jou as lewensredder roep?

Wie om jou is op pad na hul dood na die lewe?

Hoe kan jy hulle red?

Gebed

Here, ek het nog nie so daaraan gedink nie, maar ek besef dat daar mense in my omgewing is wat op pad is na hulle dood. Dit is verskriklik. Ek wil hulle help. Ek kan nie net toekyk dat hulle op die verkeerde pad is nie. Wys my hoe om hulle te help. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek