God se Woord in vandag se woorde

Wys wat ek doen dat ek ‘n dienaar van Christus is?


Ons beplan om Vrydag, 10 April ook ‘n aanlyn-erediens uit te saai vanaf 9h00. Skakel gerus in by https://kruispad.online.church/ en word so deel van ‘n geloofsgemeenskap op ‘n nuwe manier.

By Paulus kan ’n mens baie leer. Nie net uit wat hy alles skryf nie, maar ook uit wat hy doen. Hy het ’n hele paar talente gekry en daarmee het hy volstoom gewoeker. So erg dat ons amper 2 000 jaar later nog steeds kan oes van die vrug van daardie gewoeker. Ek is seker daarvan dat dit wat hy geskryf het, al het hy nie self die pen op papier gesit nie (ander mense het geskryf terwyl hy dit voorgesê het), die meeste van die tyd maar net gevloei het.

Jy sien, dit was sy talent en omdat hy verstaan het wat Jesus vir hom gedoen het, kon hy nie anders as om sy talente tot uitbreiding van God se Koninkryk te gebruik nie. Daarom sê hy: 1Van Paulus. Ek is ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus. God het my aangestel om vir almal wat Hy uitgekies het om sy kinders te wees te vertel hoe om te glo. Ek moet die regte kennis oor die waarheid met hulle deel. Hierdie waarheid verander elkeen wat dit glo in ’n dienaar van God.

Paulus is so gevul met die Heilige Gees, hy loop eintlik die heeltyd oor van God se dinge. Hy kan dit nie keer nie. So moet dit eintlik by elke kind van God wees. Wanneer iemand in God glo en hom- of haarself as ’n Christen sien, raak hulle outomaties ’n dienaar van God. Met ander woorde, God word gedien. En sover ek weet, is dien hier ’n werkwoord. Dit is iets wat ons moet doen. Paulus dien vir God deur Sy opdrag om ander van Hom te vertel. En terwyl Paulus God dien, steek hy vir my en jou en miljoene ander mense aan.

Hier word ons elkeen gekonfronteer met die vraag: Hoe dien ek God? Die boodskap is eenvoudig: As ek ’n kind van God is en Sy waarhede verstaan, verander ek in ’n dienaar. Dan gaan ek prakties oor in die dien van God en begin ek iets doen. Uit my optrede en dade in die wêreld sal mense dan outomaties kan raaksien dat ek ’n doener en dienaar van Christus is. Die omgekeerde is egter ook waar. As die dade van die dienaar nie sigbaar is nie, hang daar ’n groot vraagteken oor sy dienaarskap. So ’n persoon verstaan nie regtig die waarheid oor God nie. Kan so ’n persoon dan werklik ’n dienaar van God genoem word?

Paulus skryf dié brief aan sy geliefde vriend Titus om hom te help waar hy nou na ’n nuwe gemeente gaan. Dit is egter nie net vir Titus nie, maar ook vir jou en my. Paulus bring ons eintlik met die eerste vers by ’n stopstraat waar ons elkeen moet gaan kyk hoe ons lewe as diensknegte van God lyk.

Ons moet seker maak dat ons die Boodskap reg verstaan en dit dienooreenkomstig uitlewe. Ons kan nie maar net voortploeter en dink ons is op die regte pad nie. Ons kan nie maar net die lewe as diensknegte van God met ons eie interpretasie daarvan stap nie. Ons word so maklik van die regte pad af gelok en ons raak so vinnig gewoond daaraan dat ons nie eens besef dat ons op die verkeerde pad is nie.

Ons moet seker maak dat ons die regte waarhede beet het. Ons moet baie tyd en energie in God se Woord deurbring, sodat dit ons kan verander en help om die pad as dienaar te stap. Die pad sal dan besaai lê met dade wat wegwys van die dienaar, maar heenwys na God.

Om oor na te dink
Verstaan jy werklik wat God vir jou gedoen het?
Dien jy werklik vir God?
Hoe lyk jou dade?

Teks
Tit 1:1-4

Gebed
Vader, dié stopstraat waar Paulus my laat stop het, het my so ‘n bietjie geruk. Toe ek so terugkyk oor my lewe en my dade, sien ek nie veel wat lekker lyk nie. Ek besef dat die dinge wat ek doen, nie altyd met liefde saamstap nie. Daarom bely ek nou my sonde. Ek is regtig jammer dat U liefde nie in al my dade sigbaar is nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek