God se Woord in vandag se woorde

Wysheid wat deurbreek


’n Man praat met my via ons webtuiste se chat-funksie. Hy wil net met iemand praat. Hy sê hy wil die uitdagings wat voor hom en sy vrou se deur lê, so ‘n bietjie wind gee. Hy wil met iemand gesels, want hy weet nie meer wat om te doen nie. Die ding is besig om sy hele lewe oor te neem.

Dit gaan oor sy vrou se werk. Eintlik meer oor haar werkgewer. Hulle het haar die afgelope jare oorlaai met werk. Sy het al soggens vroeg begin werk, asook naweke. Die werk het alle spaartye opgeslurp.

Sy het later drie mense se werk gedoen. Sy het bevordering gekry, maar haar salaris het dieselfde gebly. En nou wil hulle haar laat loop. Hulle het die werk nodig om te oorleef.

Ons gesels die kant toe, dan daardie kant toe. Ek gee raad en sê hulle moet nou professionele arbeidsregsmense inkry. Hulle het al, sê hy. Ek besef later dat die impak wat dit op hul finansies het, vrees verhoog en hulle nou weerhou om ’n goeie deurdenkte, gebalanseerde besluit te neem. Dis natuurlik menslik.

En toe slaan dit my. Hulle het wysheid nodig. Wysheid wat net van een plek af kom en dit is van God af. Ons almal kom in situasies waar ons dit al van alle kante af bereken het en nie by ’n antwoord kan uitkom nie. Baie keer is dit juis die impak van ons besluit wat ons keer om ’n besluit te neem.

Wanneer ons so in ’n hoek vasgeverf is, is daar net een plek waarheen ons kan gaan en dit is God. Gaan vra vir God en hier is die belofte: 5Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra; Hy sal gee.

Dis ’n belofte wat ons moet najaag. Dis ’n belofte wat ons in ons sakkie moet pak vir latere gebruik, daar waar jy by ’n stopstraat staan en nie weet watter kant toe nie. Ons kan vir God vra vir wysheid en dan kan ons rustig wag, want Hy sal op ’n manier die wysheid vir ons kom uitpak.

Die probleem is dat ons nie altyd tyd het nie en God se tyd is mos anders. Ons sit ook vasgekeer in menslike behoeftes wat ons nie weet hoe ons dit op ’n menslike manier gaan aanspreek nie.

Dis hier waar ons geloof saam met al die uitdagings, saam met die tekkie die teer slaan en ons so te sê boedel moet oorgee aan God. Nee, ek bedoel nie ophou probeer en ophou planne maak nie.

Ons moet eintlik nog harder planne maak en nog harder probeer, want êrens in hierdie proses sal God Sy wysheid oor ons laat neerdaal. Dit moet ons bly glo, want dis juis geloof in God wat ons uitbring by Sy wysheid vir die uitdagings wat in ons pad lê.

Dit sal God doen in oorgawe en sonder behoud. Daar is nie voorwaardes waaraan ons eers moet voldoen nie. Laat ons dit so doen. Laat ons glo en vra vir wysheid en dan juis so gaan leef dat dit enige tyd hier in ons koppe gaan deurbreek.

Teks
Jakobus 1:1-8

Om oor na te dink
Het jy wysheid nodig?
Glo jy dat God dit vir jou sal gee?
Leef jy so?

Gebed
Vader, soms is my geloof net te klein. Soms vertrou ek nie die vrede nie. Soms twyfel ek of U regtig die wysheid sal gee. Ek leef nou anders en weet dat U wysheid een of ander tyd sal deurbreek. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek