God se Woord in vandag se woorde

Ywerig oefen


Ek ry my eerste “Karoo to Coast”-bergfietsresies. Nie dat ek dit wil wen nie. Ek dink die resies is teen jouself. My resies is om net klaar te maak. Die jaar wat ek dit doen, is die ergste ooit. Dit het gereën, nee, gesous. Later was daar ysreën. Die wind het erg gewaai. Sommer bome omgewaai. Die voorlopers het die wedren ’n uur en ’n half later klaargemaak as die vorige jaar s’n.

Voor die wedren was ek nie langer as twee ure op ‘n slag in die saal nie. Gelukkig was ek spin-fiks. Maar dit het nie veel gehelp met die sewe tot agt ure wat ek in die saal moes vasklou nie. Later was alles dood.

Ek het elke bult uitgestotter – nie dat ’n mens so ’n woord in fietsry kry nie, maar so het dit vir my gevoel. By die afdraandes was ek onverskrokke. In die modderplasse het ek net my voete gelig en probeer om nie te val nie.

Ek het een missie voor oë gehad. Ek wou met alles in my die wedren voltooi. Maak nie saak dat daar nie ’n droë kolletjie op my liggaam was nie. Maak nie saak dat my vingers en tone spierwit tot blou is van die koue nie, ek wou net klaarmaak.

En ek het. Ek was so trots daarop.

Met die terugry huis toe, het ek omtrent die hele pad geslaap. Met die wakker tye het ek gewonder of ’n mens die wedren makliker sou kon aflê. Ek het besef dat meer tyd in die saal sou gehelp het. Hoe meer ’n mens oefen, hoe meer is jy voorbereid vir wat die omstandighede na jou toe gooi. Hoe korter sal die tyd wees waarin jy die wedren voltooi. Hoe minder seer sal jy na die tyd wees.

Wanneer ’n mens ’n sportsoort kies, moet jy energie daarin sit om dit die moeite werd te maak. Jy moet ywerig wees. Jy moet jou deel doen. Jy moet gedurig oefen, sodat wanneer jy weer aan ’n kompetisie of wedren deelneem soos ek, jy gemaklik sukses kan behaal.

Met dieselfde ywer moet ons ook die pad as kinders van God hier op aarde aandurf. So baie keer begin ons ’n ding met oorgawe, soos ’n nuwe sport, maar as ons ons weer kom kry, is ons spoed gebreek en gooi ons later handdoek in.

11Ek wil graag hê julle moet aanhou om God so ywerig te dien. Hou so aan tot God alles gedoen het wat Hy beloof het.

In die wêreld kom die winde baie keer woes aangewaai. Soms is daar woeste storms met ysreën. Dan moet ons sterk staan. Dan moet ons met dieselfde ywer vorentoe beur. Ons moet die volle resies suksesvol aflê. Ons moet tot die einde met dieselfde krag aanhou.

En dit is nie so maklik nie, want ons raak moeg, ons verloor ywer, ons verloor die visie. Die lewe druk net te hard, sodat ons oë traan.

Ons moet onsself geestelik fiks hou. Ons moet sorg dat ons daagliks in God se Woord oefen. Ons moet ons geestelike liggaam genoeg voer, sodat ons ook suksesvol die wedren kan voltooi.

Lekker oefen!

Teks
Hebreërs 6:9-11

Om oor na te dink
Maak jy dit in die wêreld?
Hoe lyk jou geestelike oefenprogram?
Hoe kan jy meer tyd in God se Woord bestee?

Gebed
Ons Vader, dankie vir U Woord. Dankie dat ek kan oefen. Help my om dit elke dag reg te kry. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek